|

Syfers vandag bekend gemaak: Plaasmoorde en plaasaanvalle styg weer in 2016

Die burgerregte-organisasie AfriForum en die Transvaalse Landbou-unie van Suid-Afrika (TLU SA) het vandag tydens ’n mediakonferensie in Centurion ’n kommerwekkende styging in plaasaanvalle en plaasmoorde vir 2016 bekend gemaak met die aankondiging van dié amptelike syfers.

Hierdie stygende tendens is nou reeds vir die sesde agtereenvolgende jaar te bespeur. Die 2016-syfer van 64 moorde is slegs tot en met 30 November vanjaar bereken. Volgens genl. Chris van Zyl, assistenthoofbestuurder van TLU SA, het Desember 2016 egter reeds ’n verdere toename tot gevolg gehad met ’n beraamde verhouding van bykans een moord per dag tot op hede vir die maand, wat die totale plaasmoordsyfer vir 2016 die hoogste maak vir die afgelope sewe jaar.

“’n Verdere kommerwekkende tendens is die klaarblyklik toenemende gebruik van tegnologie deur plaasaanvallers. Ons het CCTV-bewyse van ’n toestel wat deur plaasaanvallers gebruik is, wat radio- en selfoonkommunikasie asook alarms onderdruk. Hierdie toerusting val in dieselfde liga as militêre toerusting wat ’n eindgebruikersertifikaat vereis,” sê Van Zyl.

Lorraine Claasen, misdaadanalis verbonde aan die AfriForum Navorsingsinstituut (ANI), het tydens die konferensie aangedui dat sy in haar analise van talle plaasaanvalle en -moorde, sekere patrone kon identifiseer. Onder andere dat plaasaanvallers toeslaan in groepe wat wissel van een tot soveel as 13 aanvallers per insident. Ook dat aanvalle ongetwyfeld haarfyn beplan word en dat die boer spesifiek tydens ’n aanval geteiken word en dikwels die eerste persoon is wat aangerand of vermoor word. Verskeie ander tendense wat deur Claasen waargeneem is, word meer breedvoerig in die verslag vervat.

Ernst Roets, AfriForum se adjunk uitvoerende hoof, het tydens die mediakonferensie gesê dat hy veral bekommerd is oor die moontlike verband wat daar volgens hom tussen gewaagde politieke uitsprake en plaasmoorde bestaan.

“Daar heers tans ’n klimaat in ons land waar dit gewild geraak het om rassistiese en haatspraak-uitlatings teenoor wit mense te maak. Hoewel ons uiters versigtig is om afleidings te maak wanneer dit by plaasmoorde en -aanvalle kom, beskou ons hierdie moontlike tendens in ’n baie ernstige lig.”

Roets het verder genoem dat dit wel verblydend is dat lt.genl. Kgomotso Phahlane, waarnemende polisiekommissaris, groter bereidwilligheid toon om plaasmoord- en plaasaanvalsyfers in ag te neem.

Claasen het ook tydens die konferensie haar dankbaarheid uitgespreek oor vordering wat in dié jaar ten opsigte van polisiesamewerking bereik is. Sy noem dat daar ’n groter tegemoetkomendheid is om na klagtes en probleme te luister en dat daar ’n platform gestig is waarbinne inligting rondom plaasmoorde en -aanvalle geruil kan word.

“Hierdie verhouding is vir ons deurslaggewend,” sê sy.

Claasen het verder genoem dat ANI tans besig is om die name van plaaswerkers wat ook slagoffers van plaasmoorde was, by hul data te werk. AfriForum beplan verder verskeie veldtogte en projekte vir 2017 om plaasmoorde en plaasaanvalle hok te slaan.

Lees die verslag hier.

Similar Posts