|

AfriForum verwelkom uitspraak in Eston-plaasmoordverhoor

Die Pietermaritzburgse hooggeregshof het vir Siboniso Mtolo lewenslange gevangenisstraf opgelê vir die moord van ’n boer in Eston, KwaZulu-Natal in September 2013.

Tydens vonnisoplegging het Regter Isaac Madondo gesê: “Almal, veral plaasgemeenskappe, moet beskerm word teen mense soos Mtolo”. Die Regter het gesê dat die Hof hoop dat hierdie vonnis dien as afskrikmiddel vir misdadigers wat plaasgemeenskappe al vir jare teister.

“AfriForum verwelkom die vonnis en veral Regter Madondo se stelling waarin hy bevestig het dat die plaasgemeenskap spesiale beskerming benodig. AfriForum doen al vir meer as ’n jaar ’n dringende beroep op die Minister van Polisie, Nathi Mthethwa om plaasaanvalle te prioritiseer, maar dié pleidooi is tot dusver bloot oorgesien. AfriForum hoop dat Regter Madondo se stelling die oë van die SAPD se topbestuur sal oopdwing,” het Chris Fourie, AfriForum se gemeenskapskoördineerder vir KwaZulu-Natal, gesê.

“Daar is meer as 770 plaasaanvalle, insluitend plaasmoorde, in KwaZulu-Natal aangemeld sedert 2001. Hierdie boere wat aangeval en vermoor word lewer ’n broodnodige diens aan Suid-Afrikaners. Sonder hulle produkte sal die land se mense honger ly en die ekonomie sal in duie stort.”

AfriForum in KwaZulu-Natal het ’n vergadering met die provinsiale polisiekommissaris asook die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming versoek om maniere te bespreek hoe die plaasgemeenskap, AfriForum en die onderskeie departemente kragte kan saamspan om die moorde op boere te beëindig.

Ondersteun AfriForum se veldtog om nasionale en internasionale druk op die regering te sit om plaasmoorde te prioritiseer. SMS “jou dorp se naam” na 45344. 50c/SMS.

Similar Posts