|

AfriForum eis pro-aktiewe strategie teen plaasmoorde

AfriForum het vandag gesê dat die afgelope week se gebeure opnuut bevestig het dat plaasmoorde nie deur die normale regsprosesse bekamp moet word nie en dat slegs ʼn gefokusde teenstrategie die krisis volhoubaar sal oplos. Hennie Bentley (73) en Gerrit Myburgh (78) is die afgelope week vermoor, dieselfde week waarin die moordenaars van ʼn bejaarde egpaar in die Vrystaat tot lewenslange gevangenisstraf gevonnis is.

AfriForum het die vonnisoplegging van Oupa Mokoena (47) en Ezekiele Mguni (30) vir die moord op Ernest (77) en Annatjie (76) van Rooyen verwelkom, maar bygevoeg dat die oplossing vir die plaasmoordkrisis meer behels as strawwe vir individue. Die organisasie het ook vandag ʼn blog-artikel op sy webblad gepubliseer waarin tien redes waarom plaasmoorde as prioriteitsmisdaad hanteer moet word uiteengesit word.

Die Van Rooyen-egpaar is in Januarie op die plaas Somerset naby Parys in die Vrystaat vermoor. Ernest se liggaam is op hul plaaswinkel se vloer gevind. Annatjie se liggaam is in die vrieskas gevind, waar sy versmoor het nadat sy lewendig daarin toegesluit is. Bentley is die naweek oorlede nadat sy familie verlede week op sy plaas buite Vanderbijlpark aangeval is. Myburgh is verlede Sondagaand op sy hoewe buite Heidelberg vermoor.

“Nasorg is belangrik, maar voorkoming is kritiek. Die afhandeling van ʼn individuele insident bring ons nie nader aan ʼn oplossing vir ʼn kollektiewe krisis nie,” het Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum gesê.

“Plaasmoorde het handuit geruk en die enigste manier om dit doeltreffend te beheer, is om ʼn gefokusde teenstrategie te implementeer. Daar is baie kundiges wat bereid is om te help. Al wat die regering moet doen, is om te luister.”

Roets het ook gesê dat AfriForum aanstaande maand ʼn verskerpte veldtog teen plaasmoorde van stapel gaan stuur.

Similar Posts