|

AfriForum stuur 10 000 e-posse aan polisieminister oor plaasmoorde

AfriForum het deur middel van die webblad www.hoelanknog.co.za reeds meer as 10 000 e-posse van die publiek vir die minister van polisie, Nathi Mthethwa, gestuur waarin die prioritisering van plaasmoorde gevra word. Hierdie e-posse sal ook deel vorm van die petisie wat AfriForum in November by die Verenigde Nasies se Forum vir Minderheidsaangeleenthede sal indien.

Gedurende die afgelope twee jaar het slagoffers, wat geliefdes in plaasmoorde verloor het, meer as tien keer gepoog om die minister van polisie te laat ingryp by plaasmoorde.

Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, het gesê dat die webblad geskep is om aan die publiek ’n platform te bied om hul sê te sê en druk op die minister te plaas.

“Mthethwa moet besef dat ons nie gaan lê nie. Hoe langer hy die plaasmoordkrisis ignoreer, hoe meer aggressief sal ons ons veldtog voer. Die voorlegging by die Verenigde Nasies is maar net die begin.”

Roets het bygevoeg dat daar ʼn legio redes bestaan waarom plaasmoorde prioritiseer moet word.

“Die vertrekpunt is die feit dat plaasmoorde ’n unieke misdaad is wat ’n unieke teenstrategie regverdig. Boere woon in afgeleë gebiede en die polisie se landelike veiligheidsplan het nog geen impak op die plaasmoordkrisis gemaak nie. Afgesien daarvan is die voorkoms van plaasmoorde buitensporig hoog en is dit dikwels onmenslik wreed.”

  • Mthethwa het nog nie erken dat hy die e-posse ontvang het nie.
  • Die publiek word aangemoedig om die petisie te ondersteun by www.hoelanknog.co.za.

Similar Posts