|

Verhoor van vermeende plaasmoordenaars begin in Potchefstroom

Twee vermeende plaasmoordenaars, wat ʼn melkboer van Fochville, David Hall, in Februarie 2012 vermoor het, verskyn op Maandag, 8 April in die Potchefstroomse Hooggeregshof.

Die burgerregte-organisasie AfriForum wil hê die regering moet weereens oorweeg om plaasaanvalle te prioritiseer en sal die Hall-familie in hierdie opsig bystaan. Reg Crewe, die hoof van gemeenskapsveiligheid van AfriForum sê hy sal meer aandag op hierdie saak vestig, sodat die regering die erns en wreedheid van plaasmoorde kan besef en kan ingryp om dié aanvalle te probeer stuit. AfriForum voer ʼn intensiewe veldtog teen plaasmoorde waardeur daar druk op die regering en die minister van polisie geplaas word om plaasmoorde tot ʼn prioriteitsmisdaad te verklaar en om spesialiseenhede vir landelike beveiliging te ontplooi.

Vyf aanvallers het mnr. Hall en sy vrou, Bernadette, in die vroeë oggendure op 19 Februarie 2012 oorval toe die egpaar besig was om hulle koeie te melk. Mnr. Hall is aangerand en doodgeskiet. Die aanvallers het mev. Hall uit die melkstal gedwing en het haar met ʼn panga, geweer en pyp aangerand.

Die aanvallers het niks gevat nie en met die egpaar se motor gevlug, wat later in die Kokosi informele nedersetting naby Fochville gevind is.

Slegs twee van die vyf vermeende aanvallers is deur die polisie vasgetrek.

“Die mans staan tereg op aanklagte van moord. Hierdie geval word deur die polisie beskou as ʼn rooftog wat skeefgeloop het, maar die brutaliteit van die aanval op mev. Hall verdien eintlik hulle spesiale aandag. Mev. Hall se lewe en vertroue in die mensdom is vir ewig geskaad. AfriForum sal die Hall-familie bly bystaan. Ons hoop dat geregtigheid sal geskied en dat die skuldiges na behore gestraf sal word. Hopelik sal die ware motief vir die aanval in die hof aan die lig kom,” het Crewe gesê.

Die Hall-familie het aangedui dat hulle ná die hofverrigtinge onderhoude aan die media sal toestaan.

Similar Posts