|

Minister en AfriForum kom ooreen op inisiatief om plaasmoorde en ander landelike geweld te bekamp

Mnr. Senzeni Zokwana, die minister van landbou, bosbou en visserye, en ’n afvaardiging van AfriForum het vanoggend in Pretoria vergader om plaasmoorde sowel as ander landelike geweld en gemeenskapsverhoudinge in landelike gebiede te bespreek.

Tydens die vergadering het die minister en AfriForum ooreengekom dat die minister via sy departement ’n inisiatief sal fasiliteer om rolspelers oor ’n wye spektrum byeen te bring om ’n gesamentlike front teen plaasaanvalle en ander landelike geweld te vorm. Die doel van die inisiatief is ook om samewerking op plaaslike vlak tussen die onderskeie rolspelers in plaaslike gemeenskappe te verbeter.

Die partye het saamgestem dat lt.genl. Kgomotso Phahlane, die waarnemende nasionale polisiekommissaris, se verklaring dat plaasmoorde en veediefstal as prioriteitsmisdade hanteer sal word, ’n stap in die regte rigting is. Die partye het verder saamgestem dat, benewens die polisie se beloofde aksies, dit ook nodig is dat ander rolspelers oor ’n wye spektrum heen se steun en samewerking bekom moet word sodat die gemeenskappe brandende kwessies in landelike gebiede gesamentlik kan aanspreek. Van die rolspelers wat die minister wil betrek, sluit landbou-unies, plaaslike regerings, gemeenskapsveiligheidsinisiatiewe en ander gemeenskapsorganisasies in.

Die minister het gesê:

“Dit is belangrik dat ons dié probleem gesamentlik beveg, omdat dié onnodige moorde slegs beëindig kan word as ons saamwerk. Ons sal hierdie forum so spoedig moontlik byeen roep om ’n weg vorentoe te bewerkstellig om dié geveg te wen.”

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het die gesprek met minister Zokwana as konstruktief beskryf.

“AfriForum se landswye gemeenskapsveiligheidsinisiatiewe werk hard om veiliger gemeenskappe te help vestig en sal in belang van almal in Suid-Afrika saamwerk om beter samewerking tussen gemeenskappe te help vestig en gemeenskapsverhoudinge te help verbeter,” het Kriel bygevoeg.

Similar Posts