|

Wêrelddag teen marteling: AfriForum betrek Internasionale Raad teen Marteling by stryd teen plaasmoorde

AfriForum gaan eerskomende Donderdag ’n verslag, waarin die brutaliteit van plaasmoorde uitgebeeld word, bekendstel. Die Internasionale Rehabilitasieraad vir die Slagoffers van Marteling het ook reeds aan die burgerregte-organisasie onderneem om die verslag te bestudeer. Die verslag sal op 26 Junie vrygestel word – ’n dag wat deur die Verenigde Nasies verklaar is tot Internasionale Dag ter ondersteuning van Martelingslagoffers.

Die Raad is in Denemarke gesetel en by die Verenigde Nasies geaffilieer. Dit is ’n sambreelorganisasie wat uit 144 onafhanklike rehabilitasieliggame in meer as 70 lande bestaan.

Die verslag beslaan meer as 30 bladsye en is met die hulp van ’n kriminoloog wat in plaasmoorde spesialiseer saamgestel. Dit bevat ’n reeks gevallestudies waarin die wreedheid van marteling tydens plaasmoorde uitgebeeld word.

Die verslag sal op die betrokke dag saam met ’n petisielys vir die prioritisering van plaasmoorde wat uit meer as 60 000 name bestaan, in hardekopie by die nuutaangestelde minister van polisie se kantoor ingedien word. Die minister se kantoor het ook reeds bevestig dat hulle AfriForum se afvaardiging sal ontvang.

Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum het gesê dat hierdie aksie ’n voortsetting van die organisasie se uitgebreide veldtog vir die prioritisering van plaasmoorde is.

“Daar is tans geen misdaadsverskynsel in die land waarvan die brutaliteit vergelyk kan word met die brutaliteit van plaasmoorde nie. Ten spyte daarvan is die regering grootliks in ontkenning oor die ware omvang van die probleem. Die president het die afgelope week gesê dat die landbougemeenskap in die jare wat voorlê een miljoen werksgeleenthede moet skep, maar ignoreer die feit dat daardie einste werkskeppers gemartel en vermoor word.”

Verskeie slagoffers wat plaasaanvalle oorleef het, waarvan sommige selfs gemartel is, gaan teenwoordig wees wanneer die verslag vrygestel word. Die media word hiermee genooi om die geleentheid by te woon. Die besonderhede is soos volg:

Datum: Donderdag, 26 Junie 2014 (Internasionale dag ter ondersteuning van slagoffers van marteling)
Tyd: 10:00
Plek: Café Riche, Kerkplein, Pretoria.
Na bekendstelling van die verslag sal daar na die minister van polisie se kantoor gestap word vir die oorhandiging.
RSVP: Esmarie Prinsloo @ esmarie@afriforum.co.za

Similar Posts