|

AfriForum lê polisie-nalatigheid insake plaasaanvalle by blitskonferensie bloot

AfriForum het vandag in Centurion ʼn verslag bekendgestel waarin die growwe nalatigheid deur polisiebeamptes met betrekking tot die ondersoek van plaasaanvalle blootgelê is. Verskeie slagoffers van plaasaanvalle het die geleentheid bygewoon en vertel hoe hulle regte geskend is as gevolg van swak polisie-ondersoeke.

Een van die slagoffers, Bernadette Hall het onder meer vertel hoe twee aanvallers wat sy tydens ʼn uitkenningsparade as haar man se moordenaars uitgewys het, deur ʼn hof onskuldig bevind is, nadat verdoemende forensiese getuienis nie deur die polisie opgevolg is nie.

Die verslag is deur Nantes Kelder, die hoof van AfriForum se ondersoekeenheid opgestel. “Die beëdigde verklarings wat deur speurders geskryf is, in plaasmoorddossiere wat ek ondersoek het, is van so ’n swak gehalte dat die sake soms uitgegooi word. Daar is nog goeie polisiebeamptes in ons land en gemeenskappe moet hulle oppas en ondersteun in die uitdagende werk wat hulle moet doen,” het Kelder gesê.

AfriForum se afdeling vir gemeenskapsveiligheid het ʼn Handleiding vir Slagofferbemagtiging bekendstel, wat deur die hoof van dié afdeling, Reg Crewe saamgestel is. Die handleiding dek verskeie praktiese aspekte met betrekking tot die proses ná ʼn misdaad, wat prosesse op die misdaadtoneel, die aflegging van beëdigde verklarings en getuienis in die hof insluit. Dié handleiding sal aan AfriForum se plaaslike strukture en honderde gemeenskapsveiligheidsnetwerke regoor Suid-Afrika versprei word.

“Dit is nodig vir gemeenskappe om bewus te wees van polisieprosedures op ʼn misdaadtoneel, maar selfs insake prosesse na misdaadtonele. Kennis is mag en slagoffers moet hulleself bemagtig. Ons hoop dat hierdie opleidingsgids vir die bemagtiging van slagoffers aan mense nuttige inligting sal gee en hoop sal skep,” het Crewe gesê.

Die verslag wat bekendgestel is, sal deel vorm van die klag wat AfriForum onlangs by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) ingedien het. AfriForum doen ook opnuut ʼn beroep op die minister van polisie, Nathi Mthethwa, om sy houding teenoor plaasmoorde te verander en die misdaad te prioritiseer.

Sien die verslag (Handleiding vir Slagofferbemagtiging ingesluit)

Similar Posts