|

AfriForum gaan Stiglingh-plaasmoord met SAMRK opneem

AfriForum gaan die plaasaanval op die Stiglingh-egpaar in Noordwes met die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) opneem en ʼn versoek aan dié kommissie rig om standpunt vir die prioritisering van plaasmoorde in te neem.

Die SAMRK het gistermiddag aan AfriForum bevestig dat hulle bereid is om hierdie saak verder te bespreek. ʼn Datum vir die gesprek sal eersdaags vasgestel word.

Johan Stiglingh (65) is Sondagoggend op sy plaas in Noordwes met ʼn stomp voorwerp aangeval en vermoor. Sy vrou is volgens mediaberigte erg met ʼn bofbalkolf aangerand en verkrag, maar het die aanval oorleef.

Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum het bygevoeg dat dié burgerregte-organisasie genader is deur ʼn aantal persone wat geliefdes aan plaasmoorde afgestaan het en dat hierdie slagoffers van voorneme is om die SAMRK hieroor te nader. Hul beplan onder meer om klagtes teen die minister van polisie, Nathi Mthethwa, in te dien.

“Plaasaanvalle behels nie net die skending van die fundamentele regte op lewe, privaatheid, menswaardigheid en liggaamlike integriteit nie,” het Roets gesê. “Ons het ook te doen met growwe diskriminasie, want die minister van polisie is meer besorg oor die diefstal van koperkabels as martelmoorde op boere.”

AfriForum is van voorneme om die gesprek met die SAMRK te gebruik om navorsing oor plaasaanvalle aan die kommissie te oorhandig en die organisasie se standpunte te verduidelik. Na afloop van die vergadering sal ʼn aantal klagtes by die kommissie ingedien word.

Similar Posts