|

Plaasaanvallers vinniger vry; AfriForum eis swaarder straf

Twee veroordeelde plaasaanvallers, wat Pieter en Henriëtta Botes in 2011 op hul plaas, Remhoogte in Mpumalanga wreedaardig aangeval het, se gevangenisstraf is met 15 jaar ingekort. Dít, nadat ʼn regter van die Noord-Gautengse Hooggeregshof bevind het dat die landdros wat vir hulle tronkstraf van 35 jaar agtereenvolgend opgelê het, glo die “erns van die misdaad oorbeklemtoon” het.

“Die regbank het uit simpatie die vonnis van Mzakwe Isaac Madonsela en John Sipho Nkosi verminder. Hierdie bevinding het my stomgeslaan. AfriForum eis swaarder strawwe vir plaasaanvallers,” het Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid, gesê.

Cameron sê plaasaanvalle is ʼn krisis wat slagoffers en hul geliefdes, asook plaaswerkers en húlle gesinne én die gemeenskap as ʼn geheel direk raak.

“Die Instituut vir Sekerheidstudies se navorsing toon dat ʼn boer se kans om vermoor te word twee keer groter is as dié van polisiebeamptes.”

Generaal Riah Phiyega, die nasionale polisiekommissaris, het tydens ʼn openbare verhoor van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie oor plaasmoorde erken dat sowat 245 boere in sowat 2 227 plaasaanvalle die afgelope vier jaar in Suid-Afrika vermoor is.

“Ons pleit dat plaasmoorde geprioritiseer word. Plaasaanvallers moet ook swaarder gestraf word met die boodskap dat dié gewelddadige misdaadvoorvalle nie geduld sal word nie.”

Similar Posts