|

Plaasmoordverdagtes ontsnap uit Barkley-Oos gevangenis

AfriForum het ʼn dringende versoek aan die nasionale kommissaris van korrektiewe dienste, mnr. Zach Modise gerig vir ʼn interne ondersoek by die gevangenis in Barkley-Oos in die Oos-Kaap. Dié versoek volg nadat vier gevangenes, waaronder twee verdagtes wat vir die plaasmoord op Sarel Pretorius in Januarie 2014 in hegtenis geneem is, gister ontsnap het. Hulle afwesigheid is eers Saterdag, 26 Julie tydens ’n teenwoordigheidsopname opgemerk.

“’n Mens kan nie anders as om te wonder wie van binne die gevangenis betrokke was nie. Hoe saag verdagtes tralies af sonder dat iemand dit agterkom, en waar kry hulle ʼn saag?” het Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid, gevra.

Cameron sê ook hoewel die polisie plaasmoorde moet prioritiseer, is dit net so belangrik dat korrektiewe dienste verseker dat gevangenes agter tralies bly. Daar is baie verskillende rolspelers wat moet verseker dat geregtigheid geskied. AfriForum het al verskeie aksies in 2014 van stapel gestuur vir die prioritisering van plaasmoorde.

“Daar moet onmiddellik deur Kommissaris Modise opgetree word. Die Barkley-Oos polisie het die verdagtes weer in hegtenis geneem net buite die dorp, ʼn interne ondersoek moet steeds by korrektiewe dienste gedoen word om te verseker dat die polisie se werk nie weer verniet is nie.

Similar Posts