|

AfriForum verwelkom die SAMRK se verslag oor plaasmoorde

Die burgerregte-organisasie AfriForum het die verslag wat die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) vandag oor aanvalle en moorde op landelike gebiede bekend gestel het, verwelkom.

Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, het gesê dat hoewel die organisasie sekere voorbehoude oor die detail van die verslag het, is die aanbevelings wat daarin deur die SAMRK gemaak word, konstruktief. “In die eerste plek moes ons nooit in hierdie situasie beland het nie. Plaasmoorde is al sedert die vroeë 1990’s ’n krisis en die voortbestaan van hierdie krisis kan toegeskryf word aan die regering se lamsakkige houding daaroor. Ons is egter van mening dat, indien die aanbevelings wat in die verslag gemaak word met die nodige erns deur die onderskeie staatsdepartemente uitgevoer word, dit ’n wesenlike verskil kan maak om die krisis hok te slaan.”

Die verslag bevat 14 aanbevelings in totaal. Enkele hiervan word vervolgens in vereenvoudigde weergawe uitgelig:

Die SAMRK sal landelike veiligheid op sy nasionale menseregte-agenda behou en sal gesprekvoering tussen die onderskeie rolspelers aanmoedig.

  • Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) moet baie meer doen in die stryd teen misdaad in landelike gebiede.
  • Rasseverhoudings in landelike gebiede en negatiewe stereotipering moet aangespreek word, terwyl sosiale kohesie oor die algemeen aangemoedig moet word.
  • Verskeie aanbevelings word gemaak ten opsigte van voortgesette navorsing oor plaasaanvalle en -moorde.
  • Die SAPD se Landelike Veiligheidstrategie moet hersien word en die SAPD moet verskeie praktiese stappe implementeer, waaronder die organisering van ’n nasionale spitsberaad oor plaasveiligheid. (Die SAMRK het hierdie aanbeveling reeds in 2008 vir die eerste keer gemaak, maar die SAPD het versuim om dit uit te voer.)
  • Gemeenskapspolisiëringsforums (GPF’s) moet by misdaadvoorkomingstrategieë betrek word en ’n meer geformaliseerde verhouding moet tussen GPF’s en Landelike Veiligheidsprioriteitskomitees gevestig word.
  • ’n Spesiale subkomitee moet binne-in die Justice, Crime Prevention and Security (JCPS) Cluster Priority Committee geskep word met die doel om ’n aksieplan vir die aanspreek van misdaad in landelike gebiede te ontwikkel en die uitvoer van aktiwiteite ten opsigte van landelike veiligheid deur die onderskeie staatsdepartemente te monitor.

Roets het bygevoeg dat daar bepaalde elemente van die verslag is waaroor AfriForum sy voorbehoud wil uitspreek. Dit sluit onder meer die volgende in:

  • Die SAMRK het reeds in 2003 en 2008 bepaalde aanbevelings in hierdie verband gemaak, wat nie deur die regering uitgevoer is nie. Die sogenaamde teenwigte om regeringsversuim aan te spreek, is nie sterk genoeg nie en die sukses van hierdie poging hang tot ’n groot mate af van die suksesvolle uitvoering deur die regering.
  • Die kwessie van rassespanning en rassisme tydens plaasmoorde word op ’n oorvereenvoudigde wyse aangebied.
  • In die verslag word daar onder meer aanbeveel dat boere meer gereeld toegang tot hulle grond aan die regering moet bied. AfriForum is van mening dat hierdie aanbeveling nie genoegsaam teen die grondwetlike regte op privaatheid en die besit van privaat eiendom opgeweeg word nie en dat só ’n aanbeveling deur staatsamptenare misbruik kan word.
  • Die regte, hantering en ondersteuning van slagoffers moet op ’n baie meer omslagtige wyse behandel word. Die departement van justisie en grondwetlike ontwikkeling se sogenaamde Victims Charter wat tans in plek is, dek slegs drie soorte misdade. Dit moet aangepas en uitgebrei word om alle misdade in te sluit.

Roets het bygevoeg dat AfriForum sal voortgaan met sy veldtog vir die prioritisering van plaasmoorde.

Similar Posts