|

AfriForum verkla Polisieminister by Openbare Beskermer

AfriForum het vandag ʼn klag van magsmisbruik, wanadministrasie, politieke afpersing en minagting van die hof teen die minister van polisie, Nathi Mthethwa, by die openbare beskermer ingedien. Die klag spruit voort uit die minister en sy verteenwoordigers se pogings om AfriForum se protesoptog teen plaasmoorde onwettig te verklaar ten spyte van ʼn hofbevel wat verklaar het dat daar geen wettige rede is op grond waarvan die optog verhoed mag word nie.

In die klag meld Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, dat die optrede van die minister se verteenwoordigers dit nie vergesog maak om tot die gevolgtrekking te kom dat die minister ʼn traak-my-nieagtige houding teenoor plaasmoorde het nie en dat hy selfs bereid is om aktief stappe te neem om te verhoed dat die publiek aandag op hierdie katastrofe vestig.

Minder as 24 uur voor die aanvang van die optog, wat op 1 Desember 2012 plaasgevind het, is dit op instruksie van die minister van polisie se kantoor deur die Tshwane-metropolisie tot ʼn onwettige optog verklaar, ten spyte daarvan dat AfriForum hom reeds tot die Noord-Gautengse hooggeregshof moes wend vir ʼn verklarende bevel dat die optog mag voortgaan. AfriForum het hierdie bevel eers op 3 Desember ontvang. 1 Desember is as datum vir die optog gekies ter nagedagtenis aan Attie, Wilna en klein Willemien Potgieter wat op 1 Desember 2010 op hul plaas naby Lindley in die Vrystaat vermoor is.

Die minister se verteenwoordigers het verskeie pogings aangewend om te verhoed dat hierdie optog plaasvind. By een geleentheid het ʼn verteenwoordiger, wat geweier het om sy posbeskrywing of kontakbesonderhede te verstrek, Roets ingeroep vir ʼn vergadering en gesê dat AfriForum nie moet verwag om ʼn afspraak met die nasionale polisiekommissaris oor plaasmoorde te kry as dié organisasie nie afstand doen van sy planne om teen plaasmoorde te protesteer nie. “Die minister se woordvoerder, Zweli Mnisi, het ook geen geheim daarvan gemaak dat ons nie moet verwag om ʼn afspraak oor plaasmoorde met die minister te kry solank ons van voorneme is om met openbare protesoptrede aandag op die probleem te vestig nie. Dit is ʼn geval van blatante politieke afpersing deur amptenare wat hul politieke ideologie ten koste van die publiek dien,” het Roets gesê.

Roets het sy dank uitgespreek aan diegene wat die optog bygewoon het en hulle gerusgestel dat die minister se hantering daarvan as ʼn onwettige optog nie beteken dat dit wel onwettig was nie, aangesien die hof reeds beslis het dat dit mag voortgaan.

Lees die klag hier

Similar Posts