|

Stop die moorde-veldtog

AfriForum en slagoffers versoek Menseregtekommissie-verhoor oor plaasmoorde

AfriForum het op 30 Mei 2013 saam met Elize Perrin, wie se broer in ʼn onlangse plaasaanval vermoor is, ʼn klagtebundel by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) ingedien en versoek dat die kommissie ʼn formele openbare verhoor oor plaasmoorde inisieer, met spesifieke fokus op die minister van polisie, Nathi Mthethwa, se traak-my-nieagtige houding oor hierdie misdaadverskynsel.

Die bundel, wat uit tien klagtes bestaan, sluit AfriForum se formele klag in, sowel as dié van onder andere Susan Nortje, die tannie van Willemien Potgieter (2) wat saam met haar pa Attie (40) en ma Wilna (36) op 1 Desember 2010 op hulle plaas naby Lindley in die Vrystaat vermoor is. Nog ʼn slagoffer, Corrie Olivier, vertel hoe haar pa se moordenaars hom by die plaasdam gaan begrawe het en hulle vir ʼn tyd lank sy liggaam nie kon opspoor nie.

AfriForum versoek spesifiek dat die kommissie die minister dagvaar om voor die kommissie te getuig oor sy versuim om met ʼn gefokusde strategie teen hierdie soort misdaad op te tree. Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, het verduidelik dat plaasaanvalle krisisafmetings aanneem, maar dat die minister en die departement van Polisie nie net weier om ʼn teenstrategie vir plaasmoorde uit te werk nie, maar selfs ontken dat dit ʼn krisis is. AfriForum het vroeër vanjaar die briewe van 100 slagoffers van plaasaanvalle aan minister Mthethwa oorhandig. Nog voordat die briewe die minister bereik het, het sy kantoor ʼn mediaverklaring uitgereik waarin die slagoffers se oproepe om ingryping as ʼn “publisiteitsfoefie” afgemaak is wat nie ernstig opgeneem gaan word nie. Elize Perrin – wat haar storie aan die paneel van die SAMRK vertel het – het gesê dié uitlating van minister Mthethwa het hulle persoonlik opgeneem. “My broer, Mauritz Oberholzer, se moord en ons familie se rou is alles behalwe ʼn foefie. Dit is ʼn werklikheid in die land wat mense diep ruk. Ek wil die reg hê om te rou oor my broer se dood, sonder om te hoor dat dit ʼn foefie is,” het sy gesê.

Die nuutste uitgawe van die boek Treurgrond (Kraal Uitgewers), sowel as ʼn verslag wat onlangs deur die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) saamgestel is, is as bylae tot die klagtes aangeheg. Die volledige klagtebundel is op AfriForum se nuwe webblad beskikbaar.

AfriForum lê polisie-nalatigheid insake plaasaanvalle by blitskonferensie bloot

AfriForum het op 19 Junie 2013 ʼn verslag bekendgestel waarin die growwe nalatigheid deur polisiebeamptes met betrekking tot die ondersoek van plaasaanvalle blootgelê is. Verskeie slagoffers van plaasaanvalle het die geleentheid bygewoon en vertel hoe hulle regte geskend is as gevolg van swak polisie-ondersoeke. Een van die slagoffers, Bernadette Hall, het onder meer vertel hoe twee aanvallers wat sy tydens ʼn uitkenningsparade as haar man se moordenaars uitgewys het, deur ʼn hof onskuldig bevind is, nadat verdoemende forensiese getuienis nie deur die polisie opgevolg is nie.

Die verslag is deur Nantes Kelder, die hoof van AfriForum se ondersoekeenheid opgestel. “Die beëdigde verklarings wat deur speurders geskryf is, in plaasmoorddossiere wat ek ondersoek het, is van so ʼn swak gehalte dat die sake soms uitgegooi word. Daar is egter nog goeie polisiebeamptes in ons land en gemeenskappe moet hulle oppas en ondersteun in die uitdagende werk wat hulle moet doen,” het Nantes gesê.

AfriForum se afdeling vir gemeenskapsveiligheid het ʼn Handleiding vir Slagofferbemagtiging bekendgestel, wat deur die hoof van dié afdeling, Reg Crewe, saamgestel is. Die handleiding dek verskeie praktiese aspekte met betrekking tot die proses ná ʼn misdaad, wat prosesse op die misdaadtoneel, die aflegging van beëdigde verklarings en getuienis in die hof insluit. Dié handleiding sal gratis aan AfriForum se plaaslike strukture en honderde gemeenskapsveiligheidsnetwerke regoor Suid-Afrika versprei word. Reg vertel: “Dit is nodig vir gemeenskappe om bewus te wees van polisieprosedures op ʼn misdaadtoneel, maar selfs insake prosesse na misdaadtonele. Kennis is mag en slagoffers moet hulleself bemagtig. Ons hoop dat hierdie opleidingsgids vir die bemagtiging van slagoffers aan mense nuttige inligting sal gee en hoop sal skep.” Die handleiding is ook op AfriForum se webwerf beskikbaar.

Similar Posts