|

AfriForum en Landbou-minister betrek nóg rolspelers in stryd teen plaasmoorde

AfriForum en die departement van landbou, bosbou en visserye het ’n tweede gesprek oor veiligheid in boerdery-gemeenskappe gehad. Dié gesprek volg op die vergadering wat AfriForum op 20 Maart 2015 met die minister van landbou, bosbou en visserye, mnr. Senzeni Zokwana, gehad het. Minister Zokwana en AfriForum het op ’n vyfpuntplan van aksie ooreengekom wat toegepas moet word om boere en mense wat in boerdery-gemeenskappe woon te help beskerm.

Tydens die jongste gesprekke het AfriForum én die minister saamgestem dat die trefwydte van die projek uitgebrei en dat ander rolspelers ook betrek moet word. Daar is gevolglik besluit dat die departement ’n onderhandelingskonferensie sal reël om die rolspelers te betrek, wat verskeie landbou-unies asook die departemente van polisie en justisie en navorsers insluit.

As die inisieerder van die gesprekke, sal AfriForum die onderhandelingskonferensie open met ’n voorlegging oor die bevindings van die navorsing oor plaasmoorde wat die organisasie al vir die afgelope twee jaar doen. Die finale verslag sal in Augustus vanjaar bekendgemaak word.

Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, sê die organisasie stem saam dat die krisis groter is as een organisasie, daarom moet meer rolspelers betrokke raak.

“Ons voer sedert 2012 ’n veldtog vir die prioritisering van plaasmoorde. Dit is ’n saak van nasionale belang. Dit is daarom vir ons noodsaaklik om ander rolspelers betrokke te kry.”

Roets het bygevoeg dat hulle dankbaar is vir minister Zokwana en sy departement se toeganklikheid oor die saak én dat hulle hoop op ’n beter toekoms vir boere in Suid-Afrika.

Die vyfpuntplan waarop AfriForum en die departement ooreengekom het, is die volgende:

  1. AfriForum en die departement sal streng optree teen individue wat bydra tot aanhitsing tot geweld, wat onverantwoordelike of roekelose uitlatings maak wat inbreuk maak op wedersydse erkenning en respek tussen verskillende gemeenskappe.
  2. Die departement het ingestem om AfriForum by te staan om hul plaaslike veiligheidsinisiatiewe na ander gemeenskappe uit te brei, waar nodig.
  3. AfriForum het ingestem om vir die departement volle toegang tot hul navorsing oor plaasmoorde te gee. Die organisasie is besig met ’n omvattende studie waarvan die verslag voor die einde van 2015 aan die minister oorhandig sal word.
  4. AfriForum en die departement het ooreengekom op verdere gesprekke en om vennootskappe te vestig om plaasmoorde die hoof te bied. Die departement beplan om ook die departement van polisie te betrek.
  5. AfriForum en die departement het ooreengekom om deel te neem aan kommunikasie-aksies ter bewusmaking van boere en plaaswerkers se veiligheid.

Besonderhede insake die toekomstige gesprekke sal later bekendgemaak word.

Similar Posts