|

SAMRK gaan ʼn verhoor oor plaasmoorde hou

Die voorsitter van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK), adv. Lawrence Mushwana het in ’n skrywe aan AfriForum bevestig dat die kommissie besluit het om ’n openbare verhoor oor plaasmoorde te hou. Die besluit is geneem tydens ’n sitting van al die SAMRK-kommissarisse, na oorweging van ’n formele versoek deur AfriForum.

Die tema van die verhoor sal wees:

“Die status van die toepassing van die SAMRK se 2003 en 2008 aanbevelings van die Kommissie oor Veiligheid en Sekuriteit in landbougemeenskappe.”

Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum het gesê dat hulle verheug is oor hierdie stap en dat die organisasie al die hulpbronne tot sy beskikking met die SAMRK sal deel. Die organisasie sal die kommissie ook versoek dat die geleentheid aan AfriForum en aan slagoffers gebied word om oor die onderwerp te getuig.

“Die probleem is natuurlik dat die regering steeds weier om enige statistieke oor plaasmoorde vry te stel. Aan die een kant wil dit voorkom of die krisis vererger, maar aan die ander kant het die departement van polisie plaasmoorde grootliks gedeprioritiseer deur die destydse kommando’s in 2003 af te skaf en in 2007 te besluit om geen verdere syfers oor plaasmoorde vry te stel nie. Waar die regering jare gelede erken het dat boere tydens buitengewoon ‘gewelddadige en moorddadige aanvalle’ geteiken word, is daar vandag ’n totale ontkenning oor die werklike omvang van die krisis.”

AfriForum het vroeër formele klagtes by die SAMRK ingedien teen die traak-my-nieagtige ingesteldheid wat deur die departement van polisie ingeneem is teen die voortslepende golf van geweldadige plaasaanvalle en plaasmoorde wat die land teister. ’n Bundel, waarin slagoffers van plaasaanvalle hulle stemme tot AfriForum se klag voeg is ook by die SAMRK ingedien, sowel as ’n verslag deur die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) oor die onderwerp en ’n kopie van die boek Treurgrond (Kraal Uitgewers).

Similar Posts