|

5 plaasaanvalle binne vier dae – AfriForum

AfriForum sal volgende week ’n aksieplan ter opskerping van sy veldtog vir die prioritisering van plaasmoorde bekendmaak. Die organisasie is bekommerd dat die toename in plaasmoorde en plaasaanvalle in 2013 blykbaar in 2014 gaan voortduur en vererger. Gedurende die afgelope vier dae het minstens vyf gewelddadige plaasaanvalle in die land plaasgevind.

Die jongste insident het gisteraand plaasgevind toe twee gewapende mans ’n boer en sy vrou op hulle plaas net buite Barkly-Oos aangeval het. Die boer, Sarel Pretorius van die plaas Rooipoort, is doodgeskiet. Sy vrou is tydens die aanval in die badkamer toegesluit. Die polisie het vinnig gereageer en vingerafdrukke is op die toneel gekry. AfriForum se buurt- en plaaswag is ook gemobiliseer om die verdagtes, wat in Elliot se rigting gevlug het, op te spoor. Die verdagtes het ’n wit Toyota Hilux-bakkie en ook vuurwapens gesteel.

Die Barkly-Oos gemeenskap is nog getraumatiseer deur die wrede plaasmoorde op David (87) en Rallie de Villiers (86) wat in Oktober 2013 daar gepleeg is.

Die ander vier plaasaanvalle wat gedurende die afgelope vier dae voorgekom het, is soos volg:

  • 11 Januarie – Bloemspruit. Dr. Jacob Swart en sy vrou Elise is op hulle plaas deur twee mans met messe en staalpype aangeval. Aanvallers het met ’n .22 rewolwer, ’n geweer, twee selfone en ’n onbekende bedrag kontant gevlug.
  • 12 Januarie – Wallmansthal-omgewing. ‘n R5-aanvalsgeweer wat na bewering net aan die SAPD uitgereik word, is gebruik om die slagoffers, wat in hulle sestigerjare is, aan te val. Die boer is gewond en elektroniese toestelle is gesteel.
  • 14 Januarie – Waterval-omgewing buite Pretoria. Die boer is buitentoe gelok en met ‘n panga aangeval.
  • 14 Januarie – Wallmansthal. ‘n Boer is aangehou en aangerand.

Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, het gesê dat AfriForum se veldtog daarop gemik is om die SAPD sover te kry om plaasmoorde tot prioriteitsmisdaad te verklaar en om spesialiseenhede vir landelike veiligheid te skep.

“In hierdie krisis is daar nie meer ʼn draad om op te sit nie. Óf die polisie is deel van die oplossing, óf hulle is deel van die probleem.”

Ian Cameron, hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum, het bygevoeg dat druk op die regering alleen nie die krisis gaan oplos nie. Gemeenskappe het die reg en die vermoë om hulself te beveilig.

“Die regering se lakse houding jeens plaasmoorde het ʼn situasie geskep waar die publiek self verantwoordelikheid vir hul veiligheid moet neem. Ons doen ʼn beroep op elkeen om by gemeenskapsveiligheidsnetwerke betrokke te raak. In die gemeenskappe waar sulke netwerke tot stand gebring is, het misdaad beduidend gedaal.”

AfriForum se veldtog sal ’n verskeidenheid van bewusmakings- en protesaksies insluit, sowel as ’n strategie waarvolgens gemeenskapsveiligheidsnetwerke regoor Suid-Afrika op die been gebring sal word.

Similar Posts