|

AfriForum se Kriel en Roets na VSA vir bewusmaking oor plaasmoorde en onteiening

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van die burgerregte-organisasie AfriForum, en Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof, vertrek vandag na die VSA waar hulle Suid-Afrika se situasie rondom plaasmoorde en die ANC se planne vir onteiening sonder vergoeding sal belig.

AfriForum se verskerpte veldtog om die internasionale gemeenskap se aandag op plaasmoorde en onteiening van eiendom sonder vergoeding te vestig, het die afgelope tyd vinnig spoed opgetel, sê Kriel.

Sedert ’n gesiene Australiese joernalis op besoek aan Suid-Afrika deur AfriForum geneem is om onderhoude eerstehands met plaasaanvalslagoffers te voer, het letterlik tientalle berigte oor plaasmoorde en die ANC-regering se voorgenome miskenning van eiendomsreg in die Australiese en ander hoofstroommedia verskyn. Prominente politici in Australië het kennis geneem en sterk standpunt ingeneem. Optogte teen die moorde en onteiening is onder meer in Perth en Brisbane in Australië gehou. In Maart is daar ook in Brussel ’n seminaar by die Belgiese parlement oor plaasmoorde en onteiening gehou.

Volgens Kriel neem die wêreld toenemend kennis van plaasmoorde en die ANC se planne om eiendomsreg te skend. Prominente mediahuise in die VSA, Brittanje en Europa het uitgebreide aandag aan die saak geskenk – tot só mate dat AfriForum deur gesiene meningsvormers genooi is om die VSA en Europa te besoek. ’n Uitnodiging is ook van ’n gerespekteerde openbare verteenwoordiger van ’n sentristiese regerende party in ’n Europese land ontvang. AfriForum het die uitnodigings aanvaar en die bewusmaking skop vandeesweek in die VSA af.

Kriel het verwys na kommentators en politici wat gal braak oor AfriForum se internasionale veldtog en meen die ou en afgesaagde strategie om die geregverdigde kommer wat onder die groot gros gematigde lede van minderheidgemeenskappe heers valslik as “regs” af te maak, werk nie meer nie.

Kriel meen die ANC probeer mense paai met naïewe uitsprake soos dat pres. Cyril Ramaphosa nooit onteiening sonder vergoeding sal deurvoer nie en dat sy uitsprake dat hy dit wel gaan doen bloot ’n poging is om sy mag te konsolideer en die EFF te uitoorlê. “AfriForum het dié storie al voorheen gehoor. Van die Zimbabwiese boere wat die afgelope jare in hul stryd vir geregtigheid deur AfriForum bygestaan is, het by meer as een geleentheid gesê dat hulle ook destyds Mugabe se uitsprake oor grond afgemaak het as politiekery om kiesersteun te behou. Hulle het gevolglik laag gelê en al hul hoop op ‘konstruktiewe’ gesprekke met die Mugabe-regering geplaas. Die uiteinde is daar vir almal om te sien.”

Volgens Kriel is Suid-Afrika egter nie Zimbabwe nie. Anders as in Zimbabwe is sterk burgerlike instellings soos AfriForum gerat is om internasionale druk te help genereer om die skending van eiendomsreg te help verhoed.

Benewens internasionale steunwerwing gaan AfriForum ook argumente teen onteiening sonder vergoeding ter tafel lê tydens die sittings van die parlementêre komitee wat die wysiging van die grondwet ondersoek. As dié argumente egter nie deur een of ander vorm van druk gerugsteun word nie, beteken dit – in die lig van die ANC se balance of forces-benadering – dat daar gebedel eerder as beding word.

Al uitweg is dus internasionale druk deur buitelandse beleggers en regerings teen onteiening sonder vergoeding in Suid-Afrika en plaasmoorde.

Roets het gesê benewens gesprekke wat met ’n aantal meningsvormers, afgevaardigdes van die regering, navorsingsinstansies en ander belanghebbendes in die VSA gevoer sal word, sal daar ook kopieë van sy boek, Kill the Boer, versprei word. Dié boek sal amptelik op 30 Junie in Pretoria bekendgestel word.

“Die doel van die VSA-besoek is om druk op die Suid-Afrikaanse regering te plaas om plaasmoorde te prioritiseer en om daadwerklik op te tree om ’n einde hieraan te bring.”

Similar Posts