|

Generaal Phiyega kom kuier asseblief op ons plaas

Geagte genl. Riah Phiyega, nasionale polisiehoof,

Ek het oorweeg om ’n ope brief aan u te skryf, maar daarteen besluit omdat ek deesdae ook genoeg daarvan gehad het.

Ek gaan sommer met die deur in die huis val en ’n ope uitnodiging aan u rig.

U het vandeesweek uitlatings rondom plaasmoorde en -aanvalle gemaak wat my regtig diep, diep ontstel het. U het duidelik soos al u voorgangers nie ’n benul wat deesdae op plase in Suid-Afrika aangaan nie.

U het ’n probleem met die vertolking van die misdaadstatistieke op plase en meen die eintlike probleem is eintlik mense wie se emosies op loop is. Die plaasmoorde-probleem is volgens u aan die verbeter. In 2013/14 was daar 58 moorde en 493 aanvalle. As in ag geneem word hoe die getal boere jaarliks afneem, sal u weet dat dit baie hoër as die normale statistieke vir die bevolking in die algemeen is.

U weet niks van die oorlewingstryd wat in die algemeen gevoer word en die uiters spanningsvolle veiligheidsituasie waaraan die boer, sy vrou en jong kinders dag na dag blootgestel is nie.

Ek gee u gelyk. Daar kan geen onderskeid tussen moorde getref word nie. Elke moord in hierdie land is ’n tragedie wat iewers vir ’n gesin en naasbestaandes die einde van hul wêreld is.

Ek wil u aanraai om egter weer ’n ontleding van die polisie se gebrekkige statistieke te gaan doen. Dit is al uit verskeie oorde en deur kundiges bevestig dat boere en hul gesinne nou die mees bedreigde en uitgelewerde groep in die land is.

U houding dat dit nie as ’n nasionale krisis bestempel kan word nie, bevestig maar net dat die ANC-regering geen erns het om die kommersiële boer in die land te beskerm of op enige manier by te staan nie. Ondanks tientalle konferensies, seminare en kundiges se uitsprake dat Suid-Afrika op ’n ramp afstuur as die kwessie nie dringend aandag kry nie, vermy die regering om dit te takel.

Om terug te kom na my uitnodiging….

Ek sal u baie graag wil neem na die plaas waar Johan Strydom (40), ’n skoolvriend en die mees saggeaarde mens in 2010 sowat 50 km van ons plaas in die Buffelshoek-omgewing naby Potchefstroom op die wreedste denkbare manier vermoor is. Hy is lewend agter sy bakkie aangesleep, sy lewer het gebars en sy skedel is verbrysel.

As daar een mens was wat dit nooit verdien het nie, was dit Johan…

As ons daar klaar is, kan ons na die plaas Somerset gaan waar my voorgeslagte jare lank al boer en waar die lyke van tannie Annetjie van Rooyen (74) en haar man, oom Ernst (75) gevind is.

Tannie Annetjie se lyk is deur ’n neef van my in die vrieskas in hul snoepwinkel gekry en oom Ernst het op die vloer met ’n lap om sy kop gebind gelê.

Net soos Johan was tannie Annetjie en oom Ernst die “sout van die aarde mense”. Altyd vriendelik en goed vir alle mense wat hul pad gekruis het.

Hierdie voorvalle het daardie gemeenskappe uitmekaar geruk en van hulle sal nooit kan vergeet of daaroor kan kom nie. En erger nog…van hulle sal nooit ooit weer nie in vrees en beklemming leef nie.

Maar waarby ek eintlik wil uitkom, is om te sê: Kom kuier op ons plaas in die Vrystaat…en kom kyk hoe ons gesinne nou dag na dag in vrees, maar met moed probeer oorleef….met lemmetjiesdraad-heinings, kwaai honde, alarmstelsels, burgerband-radio’s en kinders wat leer deure toesluit sodra hulle kan begin loop.

Kom kyk of u een nag sonder u lyfwagte en polisie-begeleiding daar sal kan oorbly waar elke nag geluid jou wakker ruk – van ’n dikkop wat te lank skreeu, ’n hond wat effens vreemd blaf of ’n muskeljaatkat wat te kere gaan en dit laat klink of iemand deur die dak inbreek.

Kom kyk vir uself of u dink mense bly deesdae op plase omdat hulle aan een of ander idee van Utopia vasklou en of hulle daar is omdat hulle kan boer en besef dat mense in Afrika vir altyd honger sal wees en dat iemand moet werk om in daardie behoefte te voldoen. En natuurlik omdat dit hul erfenis en grond is waarvoor hulle met bloedsweet en elke pennie betaal het.

Ek wag gretig om te hoor of u die uitnodiging sal aanvaar.

Miskien kan ons dan uiteindelik ’n openlike gesprek oor die landbou-gemeenskap in Suid-Afrika begin wat tot op hede nog net houe moes vat en na wie klappe heeltyd links en regs uitgedeel word.

Ware begrip begin tog by kommunikasie en wanneer ons die dag kan sê dat ons weet hoe dit is om in mekaar se skoene te loop. Of hoe?

Similar Posts