|

AfriForum beplan verskerpte veldtog teen plaasmoorde

AfriForum het vandag aangekondig dat hy aanstaande maand ’n verskerpte veldtog van stapel sal stuur teen die regering se weiering om plaasmoorde te prioritiseer. Die organisasie is ook tans besig met die opstel van ’n dokument, genaamd “Die Mthethwa-dossier”. Die dokument bevat die besonderhede van tien gevalle in die afgelope twee jaar waartydens slagoffers wat geliefdes aan plaasmoorde afgestaan het gepoog het om die minister van polisie, Nathi Mthethwa se ingryping teen plaasmoorde te vra. Hul pogings is telkens met minagting begroet.

Hierdie stap volg nadat die nasionale polisiekommissaris, Generaal Riah Phiyega gister aan die Wes-Kaapse wetgewer weereens bevestig het dat die polisie bevoeg is om spesialiseenhede vir spesifieke misdade daar te stel. Generaal Phiyega se antwoord op ’n navraag oor die instelling van spesialiseenhede vir spesifieke misdade word vandag in die dagblad Beeld aangehaal: “As dié ding (’n verwysing na spesifieke misdade) regtig handuit ruk, sal ons daarna kyk.”

Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum het gesê dat plaasmoorde dekades gelede handuit geruk het en dat die polisie nie net weier om spesialiseenhede hiervoor in te stel nie, maar selfs net om te erken dat dit ’n krisis is.

“Plaasmoorde is ’n unieke misdryf en unieke misdrywe verg unieke teenstrategieë. Dit lyk egter of die polisiekommissaris en Minister Mthethwa in besonder, nie bereid is om hierdie werklikheid te erken nie.”

Roets het bygevoeg dat die probleem primêr by die minister se kantoor lê.

“Daar is geen rasionele verduideliking waarom plaasmoorde nie prioritiseer moet word nie. Ons vermoed egter dat ’n erkenning van die probleem ’n politieke verleentheid kan skep vir die regerende ANC, wat boere dikwels as politieke slaansakke gebruik.”

• Meer besonderhede oor die veldtog sal eersdaags uitgereik word.

Similar Posts