|

3 moorde in 3 dae. Polisie steeds afwesig met landelike veiligheid – AfriForum

AfriForum het opnuut ’n beroep op gemeenskappe, veral dié in plattelandse gebiede, gedoen om hulself te beveilig, en die burgerregte-organisasie te nader om buurtwagte te help vestig. Dít, na nóg twee plaasmoorde in Boschkop, oos van Pretoria, wat die getal plaasmoorde in die Boschkop en Cullinan-omgewing op drie in slegs drie dae te staan bring.

“Selfbeveiliging is die enigste doeltreffende wyse waarop Suid-Afrikaners hulle veiligheid kan verseker. Dit is ’n jammerte dat die regering versuim om hierdie lewensnoodsaaklike plig na te kom,” het Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid, gesê.

Die volgende 4 aanvalle is by AfriForum aangemeld:
1. ʼn Gesin van Jakkalsdans, Cullinan is op 12 Mei in ’n gewapende rooftog aangehou.
2. Charlie Groenewald (76) van Boschkop is op 13 Mei vermoor. Hy het een vermeende aanvaller doodgeskiet.
3. Gert van Dyk is op 16 Mei om 3:00 die oggend gewond en sterk tans in die hospitaal aan.
4. Louis (82) en Sandra Swanepoel (80) van Mooiplaats, Boschkop is albei op 16 Mei vermoor.

Volgens Cameron is die modus operandi van die aanvallers nog onbekend. Daar was die afgelope week bendeaktiwiteite in dié omgewing wat tot moord en roof bygedra het.

“Brigadier W.B. Kweyama van die SAPD se area-kluster moes gister terugvoer gee oor die toekomsplanne vir landelike veiligheid, maar dit het nie gerealiseer nie. Die polisie is afwesig, leierskap bestaan nie en die polisiebeamptes op grondvlak kan nie sonder die nodige hulpmiddels en leierskap doeltreffende polisiëring toepas nie,” het Cameron gesê.

AfriForum het ná mnr. Das Venter se moord in Maart 2014 ʼn optog na die Cullinan-polisiestasie gehou. Daar is nog geen plan van aksie op die tafel gesit nie.

Raak betrokke by jou naaste AfriForum-tak. SMS jou dorp se naam na 45265. R1/SMS.

Similar Posts