|

Honderd plaasaanvalslagoffers se briewe môre aan polisieminister oorhandig

https://www.youtube.com/watch?v=N6otSUEQy28

Ongeveer ʼn honderd Suid-Afrikaners wie se lewens deur plaasaanvalle verwoes is, se stories gaan môre aan die minister van polisie, Nathi Mthethwa oorhandig word. Die slagoffers gaan van die minister eis om sy stilswye te verbreek deur plaasmoorde tot ʼn prioriteitsmisdaad te verklaar. Die briewebundel sal saam met AfriForum deur Belinda van Noord, wie se pa en broer die afgelope vakansie op hul plaas naby Brits vermoor is, oorhandig word. Dit bevat 80 gedrukte briewe, sowel as ʼn DVD waarop ongeveer 20 plaasmoordslagoffers hul boodskappe aan die minister oordra. Die slagoffers wat op die DVD verskyn, sluit Susan Nortje, suster van Wilna en tannie van klein Willemien Potgieter in.

“Baie van hierdie mense moes nie net die dood van hul geliefdes verwerk nie, maar sal vir die res van hul lewe worstel met die brutale manier waarop die moorde gepleeg is,” het Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum gesê. “Die polisieminister se gebrek aan ondersteuning maak dit soveel swaarder om te verwerk.”

Die video is vervaardig tydens AfriForum se protesoptog teen plaasmoorde, wat op 1 Desember 2012 plaasgevind het (ter nagedagtenis aan die moorde op Attie, Wilna en klein Willemien Potgieter, wat op 1 Desember 2010 op hul plaas naby Lindley vermoor is). Die minister het geweier om die slagoffers se memorandum te ontvang. Ten spyte van ʼn dringende verklarende hofbevel dat die optog aan al die vereistes van die wet voldoen, het die minister voortgegaan om die optog as ʼn onwettige byeenkoms te hanteer. Die memorandum sal ook by die bundel ingesluit wees.

Roets het gesê dat die minister se stilswye aan aandadigheid grens. “Daar moet ingegryp word, nie net omdat boere in groot getalle vermoor word nie, maar omdat boere, wat in unieke omstandighede in verafgeleë gebiede met stadige polisie-reaksietyd woon, ʼn kritieke rol moet speel om hierdie land van werksgeleenthede en kos te voorsien.”

Die besonderhede vir môre se oorhandiging is soos volg:

Datum: Donderdag, 17 Januarie 2012
Tyd: 12:00
Plek: Wachthuis, Pretoriusstraat, Pretoria.

  • Foto’s en videomateriaal van die genoemde protesoptog is op aanvraag beskikbaar.

Similar Posts