|

Plaasmoorde: Die ergste vorm van diskriminasie denkbaar

Die Suid-Afrikaanse regering se houding teenoor plaasmoorde is die ergste vorm van diskriminasie denkbaar en hoewel die departement van polisie die grootste sondebok is, strek die probleem egter veel wyer as dit.

Verskeie pogings is al deur AfriForum (en ander organisasies) aangewend om die vlaag plaasmoorde en potensiële oplossings daarvoor met die minister van polisie te bespreek. Dit het telkens op dowe ore geval. Hierdie stilswye is egter nie verbasend nie, veral as ’n mens in ag neem wat die departement van polisie te sê gehad het in die uitsonderlike gevalle waar hulle hulself wel oor hierdie krisis uitgespreek het.

“Publisiteitsfoefies” en “aandagsoekers”

In 2012 het AfriForum saam met slagoffers wie se geliefdes op plase vermoor is, na die minister van polisie (toe nog Nathi Mthethwa) se kantoor gestap om ʼn memorandum vir die prioritisering van plaasmoorde te oorhandig. Die minister het geweier om die memorandum te aanvaar (kyk die video hier).

Kort daarna het die minister se woordvoerder in die media gesê dat boere nie “goue seuns en dogters” is nie en dat hulle nie op spesiale behandeling geregtig is nie. In 2013 het Belinda van Noord namens 100 slagoffers ’n bundel vol briewe by die minister se kantoor ingedien. In die bundel vra die slagoffers vir die prioritisering van plaasmoorde. Belinda se pa en broer is in die maand voor dit op hul plaas naby Brits vermoor. Nog voordat die bundel die minister se kantoor bereik het, het sy woordvoerder ’n mediaverklaring uitgereik en gesê dat hierdie aksie in sy opinie net ʼn publisiteitsfoefie is. AfriForum en die slagoffers wie se geliefdes vermoor is, is deur die minister as ʼn klomp aandagsoekers afgemaak. Hy het selfs verder gegaan deur aan te voer dat hierdie pogings om met hom te kommunikeer, in sy opinie, die stryd teen misdaad in gedrang bring en suggereer dat die regering beter dinge het om met hulle tyd te doen as om hieraan aandag te gee.

Plaasmoorde gedeprioritiseer

’n Verdere ironie is dat die regering plaasmoorde vroeër wel as ʼn prioriteit beskou het. In die laat 1990’s het die regering in ’n amptelike verklaring gesê dat plaasmoorde buitengewoon onmenslik is en dat daadwerklike optrede nodig is om dit te stop. Die regering het ’n kommissie van ondersoek van stapel gestuur en selfs ʼn prioriteitskomitee binne-in die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) gestig met die doel om plaasmoorde te ondersoek.

In 2003 het die regering egter sy houding verander. Teen alle verwagtinge, het president Mbeki aangekondig dat die kommando’s – ’n liggaam waarby lede van plaaslike gemeenskappe betrokke kon raak om beter na hul eie veiligheid om te sien – afgeskaf moet word. Geen redes is verskaf nie, behalwe dat dit nie deel van die regering se visie is nie. Op daardie stadium was amptelike statistieke oor plaasmoorde en -aanvalle egter nog vrygestel.

In 2007 het plaasaanvalle skielik met 25% gestyg vanaf die vorige jaar. Kort nadat hierdie feit geopenbaar is, het die regering aangekondig dat geen verdere statistieke oor plaasaanvalle en plaasmoorde uitgereik sal word nie.

Die syfers vandag

In die afwesigheid van regeringstatistieke word dit oorgelaat aan burgerlike organisasies om self statistieke op te trek. Die landbou-unie, TLU SA, is al vir ’n geruime tyd daarmee besig en AfriForum het ook onlangs begin om dit te doen. Hierdie twee organisasies het in 2014 ʼn ooreenkoms gesluit om hul data deurlopend met mekaar te deel om sodoende seker te maak dat die twee organisasies mekaar nie weerspreek nie en dat die syfers so volledig as moontlik is. Hierdie data word ingesamel uit inligting wat deur AfriForum en TLU SA se lede aan die organisasies gerapporteer word sowel as wenke op die sosiale media en nuusberigte. Alle data word geverifieer voordat dit op die lys gevoeg word. Geloofwaardige mediabronne word as verifieerbare data beskou, terwyl wenke op die sosiale media en inligting vanaf die publiek geverifieer word deur met die familie te skakel of dit by die plaaslike polisie op te volg.

Ons werk dus slegs met data wat geverifieer kan word en die syfers wat deur AfriForum en/of TLU SA gebruik word, behoort dus as die absolute minimum beskou te word, eerder as die volledige syfer. Volgens hierdie data was daar, teen die tyd wat hierdie artikel gepubliseer is, ’n totaal van 1 747 plaasmoorde in die afgelope 20 jaar. Hierdie syfers kan soos volg uiteengesit word:

Plaasmoorde: Januarie 1990 – Junie 2015

Boer Direkte familie Werker Besoeker TOTAAL
1 133 465 130 19 1747
* Bron: TLU SA

Berekeninge deur die Instituut vir Sekerheidstudies (ISS) toon aan dat die verhouding waarteen Suid-Afrika se kommersiële boere vermoor word, herlei kan word na 138 per 100 000 per jaar. Die wêreldgemiddeld is ongeveer 7 per 100 000 per jaar en die algemene moordsyfer in Suid-Afrika is 32 per 100 000 per jaar. In 2011 het die regering ʼn nasionale spitsberaad gehou om ʼn gefokusde teenstrategie op te stel om die moorde op polisiebeamptes te verminder. In daardie stadium was die moordsyfer op polisiebeamptes 55 per 100 000 per jaar. Hierdie syfers maak dit duidelik dat ’n Suid-Afrikaanse boer se kans om vermoor te word, meer as twee keer soveel is as dié van ’n Suid-Afrikaanse polisiebeampte.

Waarom die regering plaasmoorde nie wil prioritiseer nie

In die afwesigheid van ’n amptelike regeringstandpunt ten opsigte van plaasmoorde, moet ’n mens jou wend tot kommentaar in die media om die regering se posisie vas te stel. In die eerste plek is dit belangrik om te noem dat die regering nie juis met die media hieroor praat nie, maar wel kommentaar lewer wanneer hulle geen ander keuse het nie, soos wanneer hulle tydens ’n mediakonferensie deur ’n joernalis gekonfronteer word, óf wanneer die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMK) hulle dwing om iets te sê.

Die argument wat gereeld herhaal word, soos wat hierbo reeds uitgewys is, is dat boere volgens die regering nie spesiaal is nie en daarom nie op spesiale behandeling geregtig is nie. Dit maak volgens die regering se argument nie sin om plaasmoorde te prioritiseer nie, aangesien moord reeds ’n misdaad is en dat ’n mens nie een verskynsel van misdaad bo ’n ander verskynsel van dieselfde misdaad kan prioritiseer nie. Dit sou neerkom op diskriminasie teen mense wat vermoor word, wat nie boere is nie. Dit is min of meer hoe die regering argumenteer.

Waarom die regering verkeerd is

Op die oog af klink die regering se argument heel logies. Die probleem is egter dat dit geheel en al van geloofwaardigheid gestroop is, aangesien die regering hierdie argument slegs voer wanneer hy met plaasmoorde gekonfronteer word en nie wanneer enige ander unieke misdade ter sprake is nie. Indien die regering en die SAPD hierdie argument met geloofwaardigheid wil voer, moet dit konsekwent op alle terreine van die samelewing toegepas word. Die implikasie hiervan is dat die regering as’t ware geen misdaad mag prioritiseer nie, aangesien bykans alle prioriteitsmisdade eintlik maar unieke vergestaltings van ’n meer algemene misdaad is. Die regering het byvoorbeeld nog nooit aangevoer dat renosterstropery eintlik maar “net gewone stropery” is nie en dat dit op diskriminasie teenoor olifante en koedoes sal neerkom as die stropery van renosters prioritiseer word nie. Nee, die argument is dat renosters in buitengewone proporsie geteiken word en dat die implikasies daarvan buitengewoon is en gevolglik dat ʼn buitengewone strategie opgestel moet word om die stropery van renosters te bekamp. Dieselfde kan gesê word oor diefstal van koperkabels, wat deur die regering as ’n prioriteitsmisdaad hanteer word. So ook bendegeweld en geweld teen vroue en kinders. Al hierdie misdade word met unieke regeringsprogramme beveg, omdat dit as unieke misdade bestempel word wat buitengewone implikasies kan inhou. Wanneer moorde op Suid-Afrika se voedselproduseerders egter ter sprake is, geld hierdie argument klaarblyklik nie en word bloot aangevoer dat dit nie sin maak om plaasmoorde te prioritiseer nie. Dit, in weerwil van die feit dat die nasionale ontwikkelingsplan (in Engels afgekort as die NDP) vir die landbougemeenskap ’n doel gestel het om 1 miljoen werksgeleenthede teen 2030 te skep.

Die ergste vorm van diskriminasie denkbaar

Indien ʼn mens holisties na die regering en die SAPD se optrede oor die algemeen en hul houding teenoor plaasmoorde in besonder kyk, kan ʼn mens nie anders as om tot die gevolgtrekking te kom dat die lewens van Suid-Afrika se voedselproduseerders net eenvoudig nie vir die regering belangrik is nie. Om die waarheid te sê, dit irriteer hulle wanneer hulle gevra word wat hulle hieroor gaan doen, bloot omdat boere se lewens geensins op hulle radar is nie. Wat die Suid-Afrikaanse regering as’t ware met sy optrede sê, is dat die diefstal van ’n stuk koperdraad in sy opinie veel erger is as die marteldood van ’n boer. Dit is die ergste vorm van diskriminasie denkbaar.
Ernst Roets
Adjunk Uitvoerende Hoof
AfriForum
Twitter: @ernstroets

Similar Posts