|

AfriForum vertrek na Australië vir bewusmaking van plaasmoorde

Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, en Lorraine Claasen, kriminoloog en navorser, vertrek op 3 Julie na Perth in Australië waar hulle op ’n kongres van die World Society of Victimology oor die burgerregte-organisasie se veldtog teen plaasmoorde sal praat om groter internasionale bewustheid te skep.

Roets meen die wêreld behoort kennis te neem van die vergrype teen boere in die land en van die houding van die polisie en nasionale polisiekommissaris oor dié misdaad wat neerkom op die grofste vorm van diskriminasie denkbaar.

AfriForum en TLU SA het pas die halfjaar-syfers vir plaasmoorde en –aanvalle bekend gemaak. Sedert die begin van die jaar was daar altesame 27 moorde en 116 aanvalle.
Die aantal plaasmoorde van 1990 tot Junie 2015 is 1 747 en die aantal aanvalle 3 542.

Genl. Chris van Zyl, assistent-bestuurder van TLU SA, meen as die tendens voortduur sal daar nie vanjaar enige afname in die misdaad wees vergeleke met vorige jare nie.
Van Zyl het gesê die landbou-unie is bekommerd oor duidelike toename in brutaliteit wat met die moorde gepaard gaan. Hy meen daar moet ondersoek ingestel word of die moorde nie toenemend gepleeg word deur misdadigers wat herhaalde oortreders is nie.
Hy het gesê daar was ’n duidelik geografiese verandering in waar die meeste plaasmoorde gepleeg word. Waar Gauteng in die verlede die nommer een provinsie was, kom die meeste moorde en aanvalle nou in Limpopo voor. Ander provinsies wat erg deurloop is KwaZulu-Natal en die Vrystaat.

Van Zyl het daarop gewys dat boere ook in die meeste van die gevalle die slagoffers is. Van die 1 747 mense wat sedert 1990 vermoor is, was 1 133 boere, 465 direkte familielede, 130 werkers en 19 besoekers.

TLU SA is by verskeie aksies betrokke om die misdaad te probeer bekamp. Dit sluit in plaaswagte op boereverenigingvlak, beter benutting van tegnologie soos kameras en gebeurlikheidsbeplanning en opleiding van gemeenskappe.

Roets het gesê daar is vier redes waarom AfriForum meen plaasmoorde as prioriteitsmisdaad verklaar moet word. Eerstens weens die hoë frekwensie daarvan, die brutaliteit wat daarmee gepaard gaan, die rol wat boere in die samelewing speel as werkgewers en vervaardigers van voedsel en die omstandighede waarin boere hulle bevind soos dat hulle meer afgesonderd is en minder toegang tot vinnige hulp het.

Ian Cameron, hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum, het gesê dit is noodsaaklik dat ’n dubbelstrategie teen plaasmoorde gevolg word.

“AfriForum plaas enersyds druk op die regering om die misdaad moet die nodige erns te bejeën, terwyl gemeenskappe op verskeie vlakke toegerus en opgelei word om hulself te beveilig.”

Cameron het beklemtoon hoe belangrik dit is dat almal wat deur ’n plaasaanval geraak word bewus moet wees van die beskerming van die misdaadtoneel sonder arrestasies meer suksesvol kan wees.

Henk van de Graaf, assistent-bestuurder by TLU SA, het gesê as in ag geneem word dat 130 boere per 100 000 vermoor word, terwyl die internasionale moordsyfer 7 per 100 000 is, het boere die heel gevaarlikste werk ter wêreld. “Die moorde is ’n skending van boere se regte. Ons probeer jare lank om met die regering hieroor in gesprek te tree sonder enige sukses. Dit is een van die redes waarom TLU SA van internasionale platforms gebruik maak om bewusmaking oor die krisis te doen.”

Similar Posts