AfriForum kap Sisulu met feite ná beskuldigings van leuens
Terwyl Lindiwe Sisulu, minister van internasionale betrekkinge en samewerking, en haar departement AfriForum verlede week daarvan beskuldig het dat die organisasie vals inligting versprei en internasionaal paniek saai, is feite vandag op ’n nuuskonferensie voorgehou oor wat die ware toedrag van sake in die land is.
Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, die organisasie se twee adjunkte, Ernst Roets en Alana Bailey, en Ian Cameron, hoof van gemeenskapsveiligheid, het breedvoerig verduidelik presies wat die feite rondom die miskenning van eiendomsreg en plaasmoorde is asook watter ernstige bedreigings dit vir die land inhou.
Kriel het verwys na die ANC wat tydens sy nasionale konferensie in Desember 2017 onteiening sonder vergoeding as beleid aanvaar het sowel as die feit dat pres. Cyril Ramaphosa en Gugile Nkwinti, voormalige minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming, dié beleid by verskeie geleenthede in die openbaar herhaal het. Daar is ook gesê dat die ANC die Grondwet sal verander om dit moontlik te maak.
Kriel en Bailey het gesê ondanks Sisulu se valse beskuldigings sal die organisasie voortgaan om die internasionale gemeenskap oor die bedreigings in die land in te lig. Afvaardigings sal na Europa, Australië en die VSA gestuur word om internasionale media en meningsvormers in te lig rondom kwessies soos plaasmoorde en die bedreiging van eiendomsreg. “Die Suid-Afrikaanse regering onderskat die internasionale gemeenskap se intelligensie deur voor te gee dat eiendomsreg in Suid-Afrika nie bedreig word nie,” meen Kriel.
Hy het gesê vir Sisulu om nou gemoedere te probeer kalmeer deur aan te voer dat die Suid-Afrikaanse regering volgens die Grondwet sal optree, bied geen gerusstelling nie, aangesien die ANC juis die Grondwet wil wysig. Ook Ramaphosa se gerusstelling dat onwettige grondgrype nie geduld sal word nie, bied min troos as in ag geneem word dat die regering bloot van plan is om die skending van eiendomsreg te wettig.”
Roets het statistieke oor plaasaanvalle en –moorde voorgehou en gesê die krisis is op verskeie vlakke sigbaar. “Volgens die laaste beskikbare polisiestatistieke is meer as 1 700 plaasmoorde en meer as 12 245 plaasaanvalle oor ʼn tydperk van 21 jaar gepleeg. As in ag geneem word dat daar vir drie van daardie jare geen syfers met betrekking tot plaasaanvalle bestaan nie, kom dit neer op ʼn gemiddeld van 680 plaasaanvalle en 94 plaasmoorde per jaar. Dit is byna twee plaasaanvalle per dag en twee plaasmoorde per week, oor ʼn tydperk van 18 jaar.
“Alhoewel geweldsmisdaad onder alle gemeenskappe in Suid-Afrika ʼn krisis is, is geweldsmisdaad wat teen boere gepleeg word, proporsioneel aansienlik hoër. Verskeie pogings is al aangewend om die moordkoers van Suid-Afrikaanse boere per 100 000 te bereken. Die beste beskikbare berekenings dui daarop dat boere se kans om vermoor te word tussen drie en vier keer so hoog is soos die gemiddelde Suid-Afrikaanse moordkoers, wat alreeds een van die hoogstes ter wêreld is.”
Roets het gesê pogings om plaasmoorde op die nasionale agenda te plaas, is en word deur die regering as publisiteitsfoefies afgelag. Slagoffers wie se geliefdes op plase vermoor is, is al selfs met geweld by die minister van polisie se kantoor uitgestamp.
Hy het voorts daarop gewys dat daar toenemend ’n verband tussen aanvalle en haatspraak-uitlatings van invloedryke politici is. “Daar is ook gerapporteerde sake van plaasmoordenaars wat onder eed getuig het dat hulle wit boere vermoor het omdat hulle deur die ANC beïnvloed is om dit te doen.”
Roets het gesê die ANC is met ’n gevaarlike narratief besef naamlik dat as jy swart en arm is, iemand iets van jou gesteel het en dat ongelykheid noodwendig die gevolg van onderdrukking is.
Cameron het op sy beurt die name van tientalle slagoffers voorgehou wat tydens aanvalle óf geskiet, óf gekap, óf deurboor óf wreed met brandende plastiek of olie gemartel is. “Hierdie mense se verhale is nie leuens nie. Hulle het dit deurleef en baie het dit nie oorleef nie.”
Bailey het gesê om internasionale bewusmaking te versterk, word Suid-Afrikaners versoek word om hulle naam te voeg by die versoekskrif wat AfriForum aan regerings en internasionale beleggers gaan stuur om hulle amptelik te versoek om druk op die Suid-Afrikaanse regering te plaas om af te sien van planne om eiendomsreg te misken. Meer as 30 000 mense het reeds binne enkele dae hulle name by die versoekskrif gevoeg.
Teken die versoekskrif hier: www.onteiening.co.za