|

Plaasmoorde: Weduwee rig videoboodskap aan Ramaphosa en die VSA

Mariandra Heunis, wie se man in 2016 vermoor is, het ’n video op haar Facebook-blad gepubliseer waarin sy ’n boodskap aan president Cyril Ramaphosa en die mense van die VSA rig oor die krisis van plaasmoorde in Suid-Afrika. Die video is in reaksie op Ramaphosa se onlangse stelling in die VSA dat daar nie so iets soos plaasmoorde in Suid-Afrika is nie en in reaksie op die Suid-Afrikaanse regering se weiering om plaasmoorde as ’n prioriteitsmisdaad te hanteer. Die video is ook op AfriForum se YouTube-kanaal gepubliseer.

In die video vertel Heunis hoe haar man, Johann Heunis, voor haar en hul sesjarige dogtertjie vermoor is terwyl sy hoogswanger was. Sy vertel ook hoe sy geboorte gegee het aan hul babaseuntjie net vyf dae nadat sy pa begrawe is. Sy vertel waardeur sy as weduwee en enkelma moes gaan en doen ’n beroep op die mense van die VSA om hulle in te dink hoe dit vir hulle sou wees om te moes deurmaak wat sy deurgemaak het. “Hierdie aanvalle vind wel plaas. Dit gebeur amper daagliks en ons storie is een van duisende,” sê Heunis. Sy gaan voort: “Hierdie aanvalle vind plaas. En dit gebeur met goeie en alledaagse mense. Wat sou jy doen as dit met jou gebeur het? Wat sou jy doen as jou regering ontken dat dit gebeur? Sou jý stilbly?”

Die video sluit af met ’n beroep op die publiek om die boodskap te versprei, en op Amerikaners om hul verteenwoordigers te vra om standpunt oor plaasmoorde in Suid-Afrika in te neem. Die video bevat ook ’n verwysing na Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, se boek, Kill the Boer, vir meer inligting oor plaasmoorde.

Roets sê dat AfriForum Heunis hierin bystaan en haar sal betrek by dié organisasie se veldtog vir buitelandse bewusmaking oor plaasmoorde. Roets en Heunis het ’n beroep op die publiek gedoen om die video te deel.

Similar Posts