|

Statistiek bewys plaasaanvalle nie sosio-ekonomies gemotiveerd

Die burgerregte-organisasie AfriForum het vandag tydens ’n mediakonferensie die nuutste plaasaanvalstatistiek vir 2019 bekend gemaak. ’n Plaasaanvalslagoffer het ook die grusame gebeure van die aanval waartydens sy geskiet en verkrag is met die media gedeel.

Altesaam 184 plaasaanvalle het reeds vanjaar plaasgevind waarvan 20 plaasmoorde was. Gauteng (51 aanvalle), Noordwes (28 aanvalle) en Limpopo (27 aanvalle) is die provinsies met die hoogste getal plaasaanvalle, wat plaasmoorde insluit, maar die getal in die Wes-Kaap het vanjaar drasties verhoog.

“Aanvalle in die Wes-Kaap het geweldig toegeneem, tot so ’n mate dat meer as dubbeld die hoeveelheid aanvalle van 1 Januarie tot 31 Mei 2019 in vergelyking met hierdie tydperk in 2018 aangemeld is,” sê Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid.

Cameron sê verder daar moet gevra word of Stefan Smit, ’n boer van die Wes-Kaap, se moord nie met grondbesetting te doen het nie. As die saak van die begin af reg hanteer is, sou dit so ver gegaan het? “Die feit dat een van sy vriende bevestig het dat hy doodsdreigemente ontvang het, sê vir ons dat dit vir hom ’n risiko was. Wat kommerwekkend is, is dat die instansies wat Smit met die grondbesetting moes help hom verkeerd geadviseer het, wat moontlik tot ’n verergerde situasie kon gelei het.”
Volgens Cameron toon AfriForum se data dat die plaasaanvallers in baie gevalle nie geld gebuit het nie, maar mense het baie seergekry. “Dit is ook baie interessant dat alhoewel mense en spesifiek instansies soos Kwanalu in hul verslag sê dit is duidelik dat plaasaanvalle net sosio-ekonomies gemotiveerd is, dit beslis nie die geval is nie. Buiten die feit dat geld soms ’n rol speel, is dit ook so dat ’n ernstiger misdadiger by hierdie aanvalle betrokke is.”
As ’n mens na Suid-Afrika gaan kyk, is daar ’n tendens van moorde wat met messe of met skerp voorwerpe gepleeg word, terwyl die oorgrote meerderheid plaasmoorde met vuurwapens gepleeg word,” sê Cameron.

“Dit is belangrik dat ons nie net in statistiek alleen vaskyk nie, aangesien dit dikwels veroorsaak dat mense emosioneel afgestomp word. Ons moet onthou hier is mense wat op die agtergrond sit wat ongelooflik seergekry het en deur verskriklike trauma moet gaan. Dit is waarom iemand soos die slagoffer se storie vertel moet word en ons moet seker maak dat mense soos sy nie net ’n statistiek word nie.”
Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, het veral kommer uitgespreek dat hoofstroomkommentators en meningsvormers blykbaar aktief daarop toegespits is om enige pogings om die wreedheid en algemene voorkoms van plaasaanvalle die lig te laat sien, te diskrediteer deur dit as ’n samesweringsteorie of ’n oordrywing te bestempel. “Plaasmoorde en ‑aanvalle is ’n ernstige krisis. Dit is belangrik dat ons feitlik daaroor kommunikeer; dit is egter net so belangrik dat die omvang van die krisis erken word vir wat dit is.”

Raak vandag nog by veiligheidstrukture in jou omgewing betrokke deur ’n e-pos na veiligheid@afriforum.co.za te stuur.

Similar Posts