|

AfriForum en slagoffers gaan plaasmoordpetisie na VN neem

AfriForum en slagoffers wie se geliefdes op plase vermoor is, het vandag in Pretoria ’n petisie vir die prioritisering van plaasmoorde begin, wat in November vanjaar by die Verenigde Nasies se Forum vir Minderheidsaangeleenthede ingedien sal word. By die geleentheid is ’n verslag, getiteld “Die Mthethwa-dossier” ook bekendgestel. Die verslag bevat die besonderhede van tien gevalle in die afgelope twee jaar waartydens slagoffers probeer het om die minister van polisie, Nathi Mthethwa, se ingryping by plaasmoorde te kry. Hul pogings om met hom te kommunikeer, is telkens met minagting begroet. AfriForum het ook vandag ’n video, getiteld “Hoe lank nog?” bekendgestel, waarin ’n aantal van die slagoffers van hul pogings om met mnr. Mthethwa te kommunikeer vertel.

Die publiek word aangemoedig om die petisie by hoelanknog.afriforum.co.za te onderteken. Die petisie sal op 1 November sluit, waarna die finale voorbereiding vir AfriForum se deelname by die VN-forum gedoen sal word. AfriForum het reeds vir die geleentheid geregistreer en sal ’n spreekbeurt kry. Die petisie sal ter ondersteuning wees van ’n verslag wat AfriForum gaan indien. AfriForum beoog ook om bepaalde VN-amptenare te gaan sien om die saak in meer besonderhede te bespreek.

Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, het gesê dat die Mthethwa-dossier ten doel het om mnr. Mthethwa se lakse houding jeens plaasmoorde in die kollig te stel.

“Mthethwa praat, maar het tot dusver geen daadwerklike stappe gedoen om plaasmoorde te beëindig nie. Elke stap wat die regering die afgelope dekade trouens met betrekking tot plaasmoorde gedoen het, dui op ’n deprioritisering daarvan. AfriForum eis dat plaasmoorde geprioritiseer word omdat dit ’n unieke misdryf is, wat ’n unieke teenstrategie benodig.”

Roets het bygevoeg dat mnr. Mthethwa se optrede tot dusver van so ʼn aard is dat hy kies om deel van die probleem eerder as die oplossing te wees.

“Solank as wat Mthethwa weier om daadwerklik in te gryp, sal ons sorg dat die publiek nie net misdadigers vir die gruwel aanspreeklik hou nie, maar ook die minister van polisie by elke nuwe aanval tot verantwoording roep.”

Similar Posts