|

AfriForum lê strafregtelike klagtes oor rassistiese aanvalle op sosiale media

Die burgerregte-organisasie AfriForum het vandag strafregtelike klagtes teen twee polisiebeamptes en ’n voormalige lid van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) ingedien wat hulle tot sosiale media gewend het om plaasaanvalle aan te hits en/of geweld teen boere en minderhede te verromantiseer.
AfriForum sê dat hierdie voorvalle as ’n vorm van aandadigheid deur die Suid-Afrikaanse regering beskou kan word en dat dit dringend deur die polisie aangepak moet word ten einde toe te sien dat die verantwoordelike persone vervolg word.
Mveleli Mogolwane Gwabeni, wat volgens sy Facebook-profiel ’n lid van die SAPD is, het op hierdie sosialemediaplatform gesê dat “ons moet voortgaan om meer van hulle boere dood te maak, om ten minste op te maak vir wat hulle aan ons gedoen het”.
Chris Gumotso, wat volgens sy Facebook-profiel by die SAPD se jeugmisdaadvoorkomingslessenaar werk, het die volgende op Facebook geplaas: “Alle wit mans verdien om dood te gaan in die toekoms. F*k jou mnr. wit man.” Hy het ook foto’s van vuurwapens op sy polisielessenaar op sy profiel geplaas met dié aanhaling: “Ek voorspel burgeroorlog in Mzansi teen 2019. Haal uit julle gewere, vegters, want Asijiki (geen omdraaikans).
Maj. Mageti Mohlala, voormalige lid van die SANW (in wie se afdanking AfriForum ’n instrumentele rol gespeel het), het in reaksie op ’n foto van ’n aangerande 80-jarige man gesê dat die aanvallers sy oë en tong moes uitgesteek het sodat hulle die laaste mense is wat hy ooit sou sien en dat hy na sy graf toe kon gaan met dié nagmerrie. Hy het ook gesê: “Apartheid is in hom. Al hierdie ou wit mense dink ons is dom wanneer hulle sê hulle was teen apartheid. Ons sal nie vergeet wat hulle gedoen het nie. Nou is dit die wit mense se beurt.”
Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, wat die klagtes namens die burgerregtewaghond ingedien het, sê dat die organisasie hierdie uitlatings in ’n baie ernstige lig beskou en die sake op die spits sal dryf.

“Ons is besonders bekommerd oor die ooglopende dubbele standaarde wat toegepas word in die vervolging van persone wat rassisme pleeg of geweld of haat aanhits. AfriForum sal hierdie saak nougeset moniteer om seker te maak dat hierdie oortreders tot dieselfde omvang vervolg word,” sluit Roets af.

Similar Posts