|

AfriForum verwelkom Polisieminister se aankondiging oor plaasmoorde

Die burgerregte-organisasie AfriForum verwelkom die minister van polisie, Nkosinathi Nhleko se vermelding gister in die parlement dat plaasmoorde prioriteit moet geniet. Minister Nhleko het in antwoord op ʼn parlementêre vraag van die Vryheidsfront Plus gesê plaasaanvalle en –moorde moet deur die regering geprioritiseer word.

Op 26 Junie 2014 het AfriForum ʼn petisielys met 60 000 name by minister Nhleko se kantoor ingedien saam met ʼn verslag met gevallestudies wat die wreedheid van plaasmoorde uitbeeld.

Die ministerie het aan AfriForum die onderneming gegee dat hulle die verslag sal bestudeer en dat ʼn opvolgvergadering met die minister geskeduleer kan word.

“AfriForum glo in konstruktiewe oplossings. Die enigste volhoubare oplossing is samewerking tussen die burgerlike samelewing en die polisie. Ons meer as 130 plaaslike takke regoor die land is reeds met veiligheidsinisiatiewe besig. Ons doen dit in samewerking met die polisie, en wil saam ʼn oplossing vind vir die beskerming van ons land se voedselprodusente en hul werkers,” het Ernst Roets, AfriForum se adjunk uitvoerende hoof gesê.

“Dit is welkome nuus dat minister Nhleko erken dat plaasmoorde ʼn krisis is wat dringende ingryping van die polisie verg. ʼn Gefokusde strategie sal die beginpunt tot ʼn volhoubare oplossing wees.”

Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie het vroeër vandeesmaand, na aanleiding van ʼn formele versoek deur AfriForum, bevestig dat hulle ʼn openbare verhoor oor plaasmoorde in Suid-Afrika sal hou.

Similar Posts