|

Polisielede stamp AfriForum-verteenwoordigers en slagoffers van plaasmoorde voor minister se kantoor rond

AfriForum gaan klagtes teen die minister van polisie, Nkosinathi Nhleko, die nasionale polisiekommissaris, genl. Riah Phiyega en die Tshwane-metropolisie indien, nadat verteenwoordigers van dié organisasie en slagoffers wie se geliefdes onlangs op plase vermoor is, vandag voor die minister se kantoor deur polisiebeamptes rondgestamp en met arrestasie gedreig is.

Die insident het plaasgevind ná ’n kranslegging – wat deur AfriForum en slagoffers van plaasaanvalle gehou is – toe twee AfriForum-verteenwoordigers ’n memorandum by die hoofkantoor van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) wou gaan aflewer. Die memorandum bevat ’n mosie van wantroue in die departement van polisie en die SAPD, oor hul onvermoë en onwilligheid om daadwerklik teen plaasmoorde op te tree.

Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, het verduidelik dat die organisasie al die vereistes van die Wet op die Regulering van Openbare Byeenkomste nagekom het en dat die byeenkoms vreedsaam en wettig was.

“Ondanks al die bewyse dat die minister se kantoor en die Tshwane-metropolisie ons kennisgewing om hierdie byeenkoms te hou ontvang het, is daar vandag beweer dat niemand van die byeenkoms ingelig is nie en dat dit, in hulle opinie, ’n onwettige byeenkoms was.”

Nadat AfriForum en die slagoffers vir ’n uur in die straat moes wag vir ’n verteenwoordiger van die minister om die memorandum te ontvang, het hulle by die arkade, waarbinne die hoofingang na die polisie se hoofkantoor geleë is, ingestap en met die kranslegging voortgegaan.

Aangesien niemand van die minister se kantoor die memorandum wou ontvang nie, het Roets en Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid na die ontvangsportaal gestap om die memorandum te oorhandig. Gewapende polisiemanne het egter die pad versper. Roets en Cameron het probeer om tussen die amptenare deur te stap, waarna hulle deur die polisie gestamp is en met arrestasie gedreig is. Bernadette Hall, wie se man in 2012 op hulle plaas naby Fochville vermoor is, is ook deur die polisiebeamptes gestamp.

Roets het verduidelik dat dit die ergste vorm van onsensitiwiteit denkbaar is:

“’n Groep slagoffers wie se geliefdes vermoor is, nader die polisie vir hulp, maar die metropolisie versuim om sekuriteit vir die byeenkoms te reël, die minister weier om hulle memorandum te ontvang en hy stuur sy troepe om die slagoffers rond te stamp nadat hulle vir ’n uur in die straat moes wag. Dit is ’n skending van elke slagoffer se basiese regte op vryheid van beweging, vryheid van spraak en vryheid van liggaamlike integriteit. As die minister van mening is dat diegene wat die prioritisering van plaasmoorde versoek met boelie-taktiek stilgemaak kan word, maak hy ’n reuse-fout.”

Die memorandum is twee ure later deur ’n verteenwoordiger van die polisie se sekuriteitsafdeling ontvang.

  • Die dokumente is op aanvraag beskikbaar.

Similar Posts