|

AfriForum spreek VN se Forum oor Minderheidsaangeleenthede in Genève oor plaasmoorde en geweld teen minderhede toe

AfriForum het vandag die sewende sitting van die Menseregteraad van die Verenigde Nasies (VN) se Forum oor Minderheidsaangeleenthede in Genève, Switserland, bygewoon, om insette rakende die stand van minderheidsregte in Suid-Afrika te lewer. Dit is die vyfde keer wat AfriForum die jaarlikse sitting van hierdie forum bywoon.

Volgens Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum verantwoordelik vir internasionale skakeling, handel vanjaar se byeenkoms oor die voorkoming en hantering van geweld en wreedhede gerig teen minderhede. Sy het by die geleentheid ʼn verslag ingedien wat fokus op die gebrek aan beskerming van minderhede in Suid-Afrika. Die krisisafmetings wat aanvalle en moorde op lede van minderheidsgemeenskappe op Suid-Afrikaanse plase aanneem, is in die besonder beklemtoon. ʼn Omvattende verslag oor plaasmoorde is ook aan die VN se Menseregteraad oorhandig.

Die Forum oor Minderheidsaangeleenthede se fokus is nie die indien van klagtes nie, maar die vind van oplossings. AfriForum het onder meer aanbeveel dat minderhede beskerm en hulle regte bevorder kan word deur:

• die burgerlike gemeenskap toe te laat om betrokke te wees by die voorkoming van magsvergrype teen minderhede en die bevordering van hulle regte;
• die vryheid en onafhanklikheid van die media en regbank te verseker;
• instellings soos die Suid-Afrikaanse Artikel 9 instellings te skep, maar verder te verseker dat hulle vry van inmenging (byvoorbeeld deur kaderontplooiing) en intimidasie deur owerhede, politieke partye en ander belangegroepe funksioneer. Hulle moet oor afdwingingsmagte en voldoende befondsing beskik. Finansiële bestuur moet deurgaans gekontroleer word en wanadministrasie moet vinnig en ferm hanteer word;
• internasionale druk uit te oefen waar dié maatreëls nie in plek is nie.

Volgens Bailey is AfriForum se teenwoordigheid by die byeenkoms deel van die omvattende strategie waarmee AfriForum toenemend die skending van mense- en minderheidsregte in Suid-Afrika internasionaliseer.

Similar Posts