|

Chris Loubser-video: AfriForum rou saam oor plaasmoorde

Die vlaag wrede plaasaanvalle en nie minder nie as 70 plaasmoorde wat sedert 1 Januarie vanjaar gepleeg is, het die landelike gemeenskap en die meeste landsburgers laat steier.

Die vraag op mense se lippe is “wat kan ek doen?” So ook het Chris Loubser, ’n plaasbestuurder op die plaas van ’n bekende sakeman van Franschoek, Dinsdagaand wakker gelê nadat Joubert Conradie die oggend op sy plaas in die Klapmuts-omgewing doodgeskiet is. Loubser het Conradie blykbaar geken van landbougeleenthede in die omgewing. Hy het daarom die volgende oggend ’n video met sy selfoon in sy voertuig tussen die wingerde opgeneem.

Hierin rig hy ’n emosionele pleidooi aan Suid-Afrikaners om saam te staan en Maandag swart klere aan te trek om respek te betoon aan die boere wat in plaasaanvalle vermoor is. Hy het ook sy wens uitgespreek dat daar eerskomende Saterdag voor die Curriebeker-eindstryd ’n oomblik van stilte vir die plaasmoordslagoffers gehou sal word.

Loubser sê in die video dat hy nie op Facebook of Twitter is nie, maar nietemin het sy video soos ’n veldbrand op sosiale media versprei.

AfriForum ondersteun heelhartig Chris Loubser se inisiatief en moedig ons lede en alle gemeenskappe aan om eerskomende Maandag swart aan te trek. “Dit is belangrik dat die publiek op ’n sigbare wyse standpunt inneem en hierdie aksie is ’n geleentheid om presies dit te doen,” sê Ernst Roets, adjunk-uitvoerende hoof van AfriForum.

Similar Posts