|

AfriForum onderneem reusestudie oor plaasmoorde

AfriForum het ’n navorser aangestel om ’n omvattende studie te doen om antwoorde te vind op die raaisels agter plaasmoorde. Die studie sal meer as 100 gevallestudies regoor Suid-Afrika insluit. AfriForum het ook ’n beroep op die publiek gedoen om die burgerregte-organisasie te nader as hulle self deur ’n plaasaanval geraak is of enige inligting het wat vir die studie van waarde kan wees.

“Daar is te veel vrae waarop daar nog nie antwoorde is nie,” het Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum gesê.

“Ons wil vasstel of tendense in hierdie aanvalle vasgestel kan word. Die debat oor die motief agter plaasmoorde verdien ook verdere ondersoek. Dan is daar ook vrae oor hoe gereeld plaasaanvalle deur buitelanders gepleeg word, hoe gereeld dit die gevolg van arbeidsgeskille tussen boere en werkers is en watter veiligheidsmaatreëls die doeltreffendste is om plaasaanvalle te voorkom.”

Die studie sal deur Lorraine Claasen, ’n deskundige in plaasaanvalle gedoen word. Claasen gaan, met die hulp van AfriForum se plaaslike strukture, meer as ’n honderd gevallestudies regoor die land behartig. Onderhoude sal gevoer word met slagoffers wat plaasaanvalle oorleef het, geliefdes van persone wat op plase vermoor is, plaaswerkers en veroordeelde plaasmoordenaars.

Onderwerpe wat deur die studie gedek sal word sluit die volgende in:

• Die doeltreffendheid van bepaalde veiligheidsmaatreëls;
• Die samestelling van verskillende statistieke wat met plaasaanvalle verband hou;
• Die koste-implikasie van ’n plaasmoord;
• Die sielkundige impak van ’n plaasaanval of –moord op slagoffers;
• Die impak op plaaswerkers;
• Die doeltreffendheid van polisie-ondersoeke na plaasmoorde; en
• Die impak wat haatspraak en politieke opstokery het.

AfriForum het die publiek aangemoedig om enige inligting oor plaasaanvalle of –moorde onder hul aandag te bring sodat dit deel van die studie kan vorm.

“Geen inligting is te onbelangrik om onder ons aandag te bring nie,” het Claasen gesê.

• Enige lid van die publiek wat inligting wil deel kan AfriForum kontak by stopdiemoorde@afriforum.co.za.

Similar Posts