|

AfriForum beskuldig ministers en SAPD van aandadigheid ná die voorkoms van nóg plaasmoorde

AfriForum het opnuut ʼn beroep op die minister van polisie, Nkosinathi Nhleko, gedoen om plaasmoorde te prioritiseer.

Dít volg nadat ’n bejaarde egpaar en hul vriendin die naweek op hul wildsplaas naby Thabazimbi aangeval is. Bruno Res (73) is in die arm en sy vrou Petru (60) in die kop geskiet. Die egpaar is deur vyf mans oorval toe Petru en ’n vriendin Vrydagaand by die plaas aangekom het. Al drie die slagoffers is ná die aanval in ’n instapkluis toegesluit. Petru het op die toneel aan haar beserings beswyk.

Sedert die begin van 2015 het 157 plaasaanvalle voorgekom, terwyl 44 moorde tydens hierdie aanvalle gepleeg is.

Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, het plaasmoorde as ʼn nasionale krisis beskryf en die departement van polisie se versuim om hierdie misdaad te prioritiseer, as ʼn vorm van aandadigheid bestempel. Roets het gesê dat daar hoofsaaklik vier redes bestaan waarom die prioritisering van plaasmoorde van kritieke belang is.

“In die eerste plek dui onafhanklike navorsingsinstellings se berekenings daarop dat ʼn boer se kans om vermoor te word, meer as dubbeld dié van ʼn polisiebeampte is. Tweedens word hierdie moorde dikwels met buitengewone vlakke van brutaliteit gepleeg. Derdens het boere ʼn kardinale rol om in die samelewing te speel, veral met betrekking tot werkskepping en voedselsekerheid. Vierdens weet ons dat boere in verafgeleë gebiede woon, ver van hul bure en ver van die naaste polisiestasie.”

“Ten spyte hiervan weier die minister, die departement van polisie en die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) oor die algemeen om hierdie misdade met die nodige erns te beveg,” het Roets bygevoeg.

Roets het ook ʼn beroep op die minister van landbou, bosbou en visserye, Senzeni Zokwana, gedoen om met daadwerklike aksie in te gryp. Dít, nadat Zokwana verlede week tydens ʼn landboubyeenkoms in die Wes-Kaap sy kommer oor die vlaag van geweld op plase uitgespreek het.

“Die minister sê gereeld dat boere en instansies soos AfriForum en die regering moet byeenkom om oplossings vir hierdie krisis te vind. Die tyd vir praat is verby. AfriForum voer reeds sy eie veldtog op plaaslike en internasionale vlak. Wat die regering betref, is die bal nou in die minister se hande om te sê hoe rolspelers moet saamwerk.”

Roets het afgesluit deur te noem dat AfriForum in die komende week verdere aksies teen die departement en die SAPD se versuim sal neem.

Similar Posts