|

AfriForum spreek VN toe oor plaasmoorde

Die groei in AfriForum se ledetal het dit vir die organisasie moontlik gemaak om hom sterker op die internasionale publiek toe te spits. Dit is ook die rede waarom AfriForum die Verenigde Nasies se Forum vir Minderheidsaangeleenthede in Genève, Switserland toegespreek het.

Vir die lesers van hierdie blog is dit lankal nie meer nodig om te verduidelik dat plaasmoorde handuit geruk het nie. Wat egter wel beklemtoon moet word is dat AfriForum en slagoffers van plaasaanvalle in die afgelope twee jaar meer as tien pogings aangewend het om met die minister van polisie, Nathi Mthethwa te praat om ingryping te vra. Wat van Mthethwa verwag word is eenvoudig: Prioritiseer plaasmoorde. Wat beteken dit in die praktyk? Dit is ook eenvoudig: 1) Erken dat dit ’n probleem is; 2) kategoriseer dit as ’n unieke misdaad en reik statistieke hieroor uit (hoe meer inligting daar is, hoe beter kan dit beveg word) en 3) ontwikkel ’n gefokusde teenstrategie in samewerking met plaaslike gemeenskappe om dit te stop.

Mthethwa se houding is egter dat boere nie “goue seuns en dogters” is nie en dat plaasmoorde dus nie spesiaal behandel moet word nie. Hy argumenteer dat plaasmoorde “net moord” is en dat dit nie sin maak om een verskyningsvorm van ’n bepaalde misdaad uit te sonder nie. “Ons kan nie sê dat daar moord is, maar ook plaasmoorde nie,” lui die argument. Dit klink dalk soos ’n goeie argument, maar Mthethwa se vooroordeel is duidelik uit sy onkonsekwente optrede. Dit is maklik vir die regering om te verklaar dat stropery ’n misdaad is, maar dat renosterstropery spesifiek aangepak moet word, of dat aanranding ’n misdaad is, maar dat geweld teen vroue en kinders spesifiek aangepak moet word, of dat diefstal ’n probleem is, maar dat diefstal van koperkabels spesifiek aangepak moet word.

Mthethwa het dit met sy traak-my-nieagtige houding duidelik gemaak dat hy nie bereid is om te praat nie en ook nie om daadwerklik teen plaasmoorde op te tree nie.

Dit is waarom ons die Verenigde Nasies se Forum vir Minderheidsaangeleenthede genader het.

Die voorlegging het op 27 November 2013 plaasgevind. ’n Verslag is ook ingedien en die reaksie was positief. Afgesien van die feit dat AfriForum die afgevaardigdes kon inlig van die plaasmoorde-realiteit in Suid-Afrika, was daar egter ’n dieperliggende motivering agter die inisiatief.

Kort na die voorlegging het ek ’n klop op my skouer gekry. Dit was die Suid-Afrikaanse regering. Hulle het verneem dat AfriForum ’n voorlegging gedoen het en was taamlik ernstig om uit te vind wat ons presies gesê het. Die verteenwoordiger van die Suid-Afrikaanse ambassade in Switserland het bygevoeg dat hulle AfriForum se inisiatief in ’n ernstige lig beskou en gevra waarom AfriForum bereid is om na die Verenigde Nasies te gaan, maar nie bereid is om met die regering te praat oor plaasmoorde nie. Ons was gelukkig voorbereid vir hierdie een… By die verslag oor die realiteit van plaasmoorde het ons ’n tweede verslag gevoeg, waarin AfriForum en slagoffers van plaasaanvalle se tien pogings om met Mthethwa te kommunikeer uiteengesit word, asook Mthethwa se reaksie daarop. Die verteenwoordiger van die ambassade het hierop geantwoord dat sy gaan poog om ’n vergadering tussen AfriForum en die departement van internasionale betrekkinge en samewerking te skeduleer, aangesien die departement van polisie se optrede nou gevolge vir haar departement inhou.

Die waarde van hierdie geleentheid was dus nie bloot die feit dat AfriForum die afgevaardigdes kon inlig van die realiteit van plaasmoorde nie, maar die feit dat die Suid-Afrikaanse regering besef dat AfriForum bereid is om hom na die internasionale gemeenskap te wend wanneer hulle nie bereid is om op brandende kwessies in te gryp nie.

’n Verdere waarde van so ’n geleentheid is die langtermynverhoudings wat met invloedryke internasionale rolspelers ontwikkel word. In hierdie verband was die besoek ook ’n reusesukses en opvolgafsprake is reeds in die pyplyn.

Die slegte nuus is dat daar baie wanpersepsies oor Suid-Afrika (en Afrikaners in die besonder) bestaan en dat die internasionale gemeenskap wil vaskleef aan die beeld van Suid-Afrika as die land van Mandela waar almal in vrede saamleef en mekaar respekteer. Die goeie nuus is egter dat die internasionale gemeenskap toenemend tot die besef kom dat daar ’n gaping tussen die persepsie en die realiteit is. As daar nie eerlikheid oor die realiteite in die land bestaan nie, gaan ons nie daadwerklike oplossings kan bied nie.

Wat internasionale bewusmaking betref is daar egter nog baie werk.

Ernst Roets
Ernst is adjunk uitvoerende hoof van AfriForum
Volg hom op Twitter by @ernstroets

Similar Posts