|

“Larney, jou p….s” is haatspraak.

’n Kaapstadse hip-hopgroep het onlangs geslaag in hulle pogings om roem te verwerf deur rassisties te wees. Die afgelope week is aansienlike mediadekking gegee aan ’n groep wat ’n liedjie geskryf het met lirieke wat die luisteraar aanhits om te help om die plaas van ’n simboliese boer af te brand. Die lirieke wemel van ’n verskeidenheid kreatiewe beledigings teen witmense, die koor is ’n herhalende dreunsang van die woorde “Jou p….s, my larney”, en die musiekvideo sluit selfs af met onregmatige betreding van en brandstigting op ’n plaas.

AfriForum het aanvanklik slegs op medianavrae geantwoord en besluit om nie ’n verklaring oor die saak uit te reik nie, aangesien dit die groep se gewildheid kan bevorder. Tussen Sondag en Dinsdag het die groep egter volgens ons media-ontleders se raming meer as R1 miljoen se mediadekking ontvang, wat die saak tot ’n nasionale mediadebat verhef het. In die lig daarvan het ons ’n persverklaring uitgereik, wat aandui dat ’n klagte by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) ingedien is.

De Vos se gebrekkige perspektief

Professor Pierre de Vos was een van die eerstes om op AfriForum se inisiatief te reageer. Sy reaksie was egter ’n redelike skok. In plaas daarvan om hom by die regsinterpretasie van die saak te bepaal, het hy verkies om hom tot persoonlike beledigings en verouderde politieke redenasies te wend. Dit is duidelik dat De Vos niks vir die realiteite op Suid-Afrika se plase – waar boere in abnormaal disproporsionele getalle aangeval, doodgemaak en selfs gemartel word, omgee nie. Hy sit eerder gemaklik in sy kantoor in Kaapstad en bevraagteken die integriteit van wat hy as sy intellektueel-minderwaardige wit landgenote beskou wat ernstig gegrief voel oor hierdie stuk rassehaat, en wat eis dat dit tot haatspraak verklaar word.

Die probleem met De Vos se reaksie is dat hy so beperk word deur sy eie afwykende ideologiese wêreldsiening dat sy oordeel oor regskwessies blykbaar vertroebel is. Gevolglik tipeer hy diegene wat ’n ander siening as syne het as nie so gelukkig soos hy om geseënd te wees met wat hy as ’n uitnemende vlak van intellektuele vermoë beskou nie.

Hy stel dit dat die hoë hof geen kontekstuele uitleg oor haatspraak gegee het soos hulle veronderstel was om te doen nie – nie omdat die howe geen beslissings daaroor het nie, maar omdat die uitsprake wat deur die hof gemaak word, nie goed by sy politieke ideologie inpas nie.

Hy beeld AfriForum verkeerdelik uit as die beskermheer van wit bevoorregting en maak die gevolgtrekking dat AfriForum se optrede inkonsekwent is, aangesien AfriForum nie besorg is oor die woorde of dade van “wit” rassiste nie. Hulle is eerder bekommerd oor die woorde en dade van diegene wat “wit” rassiste kritiseer; van diegene wat “wit” bevoorregting uitdaag; van diegene wat die sosiale status en ekonomiese oorheersing bedreig van “wit” mense wat hulleself as “Afrikaners” (’n politieke term vir ’n sekere groep Afrikaanssprekende “wittes” wat hulle sterk met ’n verromantiseerde weergawe van die geskiedenis van “wit” Afrikaanssprekendes vereenselwig) identifiseer.

De Vos redeneer verder dat die liedjie nie op witmense gemik is nie, en sê dat Cyril Ramaphosa netsowel die “larney” kan wees na wie die liedjie verwys. Wat hy gerieflikheidshalwe ignoreer, is die lirieke wat lui: “You came here in 1652” en “Look at your founding father’s curriculum vitae – Jan van Riebeeck was the fucking Ernie Lastag of his day”. Ek is nie baie seker of die agbare lid Cyril Ramaphosa na Jan van Riebeeck as sy founding father sal verwys nie. Enige poging om te beweer dat die liedjie nie ’n aanval op witmense is nie, is misleidend om die minste te sê.

Hy verwys na die liedjie as baie slim en ’n bona fide-aanwending van artistieke kreatiwiteit, en stel voor dat dit rassisties is om hierdie briljante stuk kuns as haatspraak te beskou.

Wel, ek is nie ’n regsprofessor nie, en ek is seker dat De Vos glo dat ek, as ’n verteenwoordiger van AfriForum, nooit sy vlak van intellektuele vermoë sal bereik nie (nie dat ek kla nie), maar kom ek reageer deur te verduidelik waarom sy uitleg van die wet oor haatspraak verkeerd is.

 

Die Grondwet oor haatspraak

Eerstens gaan die Grondwet in ’n groot mate oor konteks. Die heel eerste artikel van die Grondwet lui dat Suid-Afrika ’n demokratiese staat is wat op die beginsels van vryheid, menswaardigheid, die bereiking van gelykheid, nierassigheid ensovoorts gegrond is.

Die reg op vryheid van uitdrukking is dan ook in artikel 16(1) van die Grondwet verskans, en met reg. Artikel 16(1)(c) beskerm uitdruklik die vryheid van artistieke kreatiwiteit. Onmiddellik daarna bepaal artikel 16(2) egter dat die reg in subartikel (1) nie propaganda vir oorlog; aanstigting van dreigende geweld; of verkondiging van haat wat op ras, etnisiteit, geslagtelikheid of godsdiens gebaseer is, en wat aanhitsing uitmaak om leed te veroorsaak, omvat nie (my beklemtoning). In wese beteken dit dat, ongeag wat ander wetgewing oor die saak sê, enige vorm van uitdrukking wat aan enige van hierdie kriteria voldoen, nie deur die reg op vryheid van uitdrukking beskerm sal word nie.

Artikel 36 van die Grondwet gaan oor die beperking van die regte wat deur die Grondwet beskerm word, en bepaal dat selfs die regte wat beskerm word, beperk kan word in die mate wat die beperking redelik en regverdigbaar is in ’n oop en demokratiese samelewing wat op menswaardigheid, gelykheid en vryheid gegrond is. Dit lys dan ’n paar faktore wat in ag geneem moet word, byvoorbeeld die aard van die reg en die belangrikheid van die doel van die beperking.

Die gelykheidswet oor haatspraak en artistieke kreatiwiteit

Benewens wat in die Grondwet bepaal word, kom haatspraak ook in die wet op die bevordering van gelykheid en die voorkoming van onbillike diskriminasie (Promotion of Equality and Prevention of Unfair Discrimination Act), wet 4 van 2000 (dikwels bloot as die gelykheidswet bekend, of aan die hand van sy akroniem PEPUDA) ter sprake.

Haatspraak word in artikel 10 omskryf:

“Subject to the proviso in section 12, no person may publish, propagate, advocate or communicate words based on one or more of the prohibited grounds, against any person, that could reasonably be construed to demonstrate a clear intention to-

  • Be hurtful;
  • Be harmful or incite harm;
  • Promote or propagate hatred.”

Eenvoudig gestel, beteken dit dat die betrokke liedjie as haatspraak beskou kan word as dit in die eerste plek gebaseer is op een of meer van die verbode gronde, wat ras, etniese en sosiale herkoms, kleur en kultuur insluit. In die tweede plek moet dit op enige persoon of, in hierdie geval, enige groep persone gemik wees. In die derde plek is die motief agter die spraak irrelevant, aangesien die toets nie lê in wat die “kunstenaar” as sy motief beskryf nie, maar eerder daarin of ’n redelike persoon glo dat die liedjie ’n duidelike voorneme toon om kwetsend of skadelik te wees (fisiese besering is nie ’n vereiste nie), of skade aan te hits, of haat te bevorder of propageer.

Gevolglik is dit nie nodig om te bepaal of die kunstenaar ten doel gehad het dat die liedjie ’n werklike wapenkreet moet wees nie. Dit is ook nie relevant of ondersteuners van die groep dit as sodanig interpreteer nie. Die toets lê eerder daarin of die mense teen wie die liedjie gerig is, dit redelikerwyse as ’n demonstrasie van die propagering van haat kan vertolk. Na my mening is dit doodeenvoudig.

De Vos gee toe dat AfriForum ’n sterk saak het om ’n hof te oortuig dat die relevante faktore bestaan het en dat die liedjie ingevolge artikel 10 van PEPUDA haatspraak uitmaak. Hy sê dan egter dat, omdat die betrokke spraak ’n kunswerk is, AfriForum nie sal slaag met ’n saak dat die liedjie ingevolge artikel 10 tot haatspraak verklaar word nie, aangesien artikel 12 van PEPUDA bona fide betrokkenheid by artistieke kreatiwiteit by die haatspraakverbod van artikel 10 uitsluit. Hierdie uitleg is ook verkeerd.

Artikel 10 handel oor die verbod op haatspraak, en artikel 12 oor die verbod op onbillike diskriminasie. Nadat artikel 12 verduidelik wat as onbillike diskriminasie beskou word, gaan dit voort om te sê dat bona fide betrokkenheid by artistieke kreatiwiteit, akademiese en wetenskaplike ondersoek, billike en akkurate verslagdoening in die openbare belang of die publikasie van enige inligting, advertensie of kennisgewing in ooreenstemming met artikel 16 van die Grondwet nie deur hierdie artikel uitgesluit word nie. Hierdie bepaling is ook op artikel 10 van toepassing.

De Vos se uitleg kon waar gewees het as die liedjie wel deur artikel 16(1) van die Grondwet beskerm is. Die feit is egter dat die liedjie nie deur die Grondwet beskerm word nie, aangesien dit by die definisie van vryheid van spraak uitgesluit word, soos in artikel 16(2) aangedui word.

As gevolg van die inhoud van die lirieke en die beelde wat in die musiekvideo voorkom, is ek verder oortuig dat hierdie spesifieke liedjie nie ’n bona fide betrokkenheid by artistieke kreatiwiteit is nie. Die liedjie en video het duidelik ten doel om uit te lok en staan duidelik haat op grond van ras en etnisiteit voor. Dit is bevestig toe die “kunstenaar” op Algoa FM sy teleurstelling uitgespreek het dat niemand ’n petisie teen die liedjie begin het nie.

Die realiteite op Suid-Afrika se plase

Soos ek gesê het, gaan die Grondwet in ’n groot mate oor konteks. Howe wat beslissings oor vryheid van spraak en haatspraak gevel het, het ook die belangrikheid van konteks beklemtoon. Kom ons kyk dan na die konteks.

Eerstens is aanvalle op boere ’n harde realiteit in Suid-Afrika. Terwyl sommige stadsjapies wat hulle wyn en fynproewerskos waardeer dalk nie ten volle die realiteite besef waarvoor diegene met die taak om die kos te verskaf wat ons so dikwels as vanselfsprekend beskou, te staan kom nie, het talle van ons persoonlike ervaring van die realiteite van plaasmoorde.

Die realiteit is dat daar die afgelope vier jaar 2 227 aanvalle op Suid-Afrikaanse plase plaasgevind het, waartydens 245 Suid-Afrikaanse boere vermoor is (syfers deur die Nasionale Polisiekommissaris aan die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie verskaf).

Die frekwensie van hierdie aanvalle is egter gering vergeleke met die brutaliteit van die aanvalle. Ons kan heeldag lank gevallestudies oor marteling tydens plaasaanvalle bespreek, maar ek glo dat dit algemene kennis is.

Tweedens is hierdie liedjie vrygestel ongeveer ’n week nadat die leierskap van COSATU en die ANC in die Wes-Kaap (ook die provinsie waar die liedjie vrygestel is) gedreig het om plase oor te neem en selfs gesê het dat die moontlikheid van grondbesettings soortgelyk aan dié wat in Zimbabwe plaasgevind het, nie uitgesluit is nie. Of die tydsberekening van die liedjie se vrystelling blote toeval was, is nie bekend nie. Dit is egter uiters ironies dat die liedjie as ’n onskuldige kunswerk beskerm word, terwyl politieke leiers in die provinsie dreig om te doen presies wat deur die lirieke van die liedjie aangemoedig word.

Derdens is daar gevalle waar Suid-Afrikaanse plaasmoordenaars getuig het dat hulle deur opruiende musiek beïnvloed is om moord te pleeg. Een voorbeeld is dié van die 28-jarige Ntuthuko Chuene, wat aan die Waarheids- en Versoeningskommissie gesê het dat hy ’n boer, Godfrey Frederick Lanz Heuer, vermoor het omdat hy deur Peter Mokaba se sang van die liedjie “Kill the Boer, kill the farmer” beïnvloed is. Chuene het gesê dat die moord nie op Heuer gerig was nie – hy was bloot ’n wit boer op die verkeerde tyd.

AfriForum se konsekwente benadering van haatspraak

Die werklike onverenigbaarheid lê eintlik in De Vos se eie argument. Eerder as om ’n konsekwente benadering soortgelyk aan dié van AfriForum te volg, verkies hy om gal te braak teenoor wit Suid-Afrikaners wat, sonder om geweld te ontlok, hulle ontnugtering uitspreek met die nuwe Suid-Afrika wat hulle in die steek laat. Terselfdertyd ondersteun hy swart Suid-Afrikaners wat hulle ontnugtering uitdruk deur geweld te verromantiseer en rassehaat aan te moedig. AfriForum se benadering tot haatspraak word konsekwent toegepas sedert ons oor die kwessie begin praat het.

Kortliks is ons benadering tot haatspraak die volgende:

  • AfriForum glo daarin om probleme deur middel van dialoog op te los. Dit is waarom ek Julius Malema voor die “Shoot the Boer”-haatspraaksaak persoonlik genader het in ’n poging om die saak op ’n konstruktiewe manier op te los. Dit is ook waarom ons op die dag waarop die nuus oor die huidige liedjie bekend geraak het, aan hierdie sogenaamde “kunstenaar” ’n e-pos gestuur het met die versoek dat die liedjie onttrek moet word – ’n versoek waarop daar in die media gereageer is toe hulle aangedui het dat hulle nie aan ons versoek gehoor sou gee nie.
  • AfriForum doen ook nie stappe teen elke persoon wat na ons mening haatspraak pleeg nie. Die toets lê vir ons in invloed. Dit is waarom ons ’n klagte van haatspraak teen Malema ingedien het, en nie teen die onbekende swart Suid-Afrikaner wat gesê het dit is nie ’n misdaad om van wittes te steel nie. Dit is ook waarom ons in hierdie geval ’n klag ingedien het eers nadat die saak in ’n nasionale debat ontaard het. Dit is ook waarom AfriForum nie reageer op rassistiese kommentaar op webwerwe wat deur onbekende persone gelewer word nie, ongeag of hulle swart of wit is.
  • In teenstelling met wat mense soos De Vos verkies om te glo, het AfriForum stappe gedoen teen rassisme onder wit Suid-Afrikaners, en het persverklarings daaroor uitgereik ook. ’n Google-soektog sal voldoende voorbeelde verskaf.

Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie

In die lig van die feit dat die SAMRK onlangs ’n openbare verhoor oor plaasaanvalle en plaasmoorde in Suid-Afrika ingestel het, het ons besluit om ons klag by die SAMRK en nie die Gelykheidshof nie, in te dien. Die rede hiervoor was dat die SAMRK onlangs hulle huiswerk gedoen het om die realiteite te bepaal waarvoor Suid-Afrika se boere te staan kom, en dat hulle meer geskik is om ’n oordeel oor die saak te vel.

 

Similar Posts