|

Polisie bevestig hulle eie onbekwaamheid

Die gestoei wat verlede week voor die minister van polisie se kantoor uitgebreek het, moet as ’n bevestiging beskou word dat AfriForum se beswaar oor die polisie se houding rakende plaasmoorde meriete het. Nie net is ekself en twee kollegas (Ian Cameron, hoof van gemeenskapsveiligheid, en Marcus Pawson, provinsiale koördineerder vir Gauteng-Suid en Noordwes) hardhandig deur die polisie hanteer nie, maar Bernadette Hall, wie se man in 2012 voor haar op hulle plaas vermoor is, is ook deur die polisie rondgestamp. Ons is verder met arrestasie gedreig, blykbaar vir “betreding” omdat ons gepoog het om ’n memorandum by die polisiehoofkantoor (’n openbare gebou) se ontvangstoonbank af te lewer.

Die groep van nagenoeg 40 verteenwoordigers van AfriForum, AfriForum Jeug en slagoffers van plaasaanvalle moes aanvanklik vir ’n uur in die straat staan en wag vir reaksie van die minister se kantoor af. AfriForum het al die statutêre vereistes vir hierdie openbare byeenkoms nagekom, en die minister en die Tshwane Metropolisie is vooraf oor die byeenkoms ingelig – hulle het selfs op ons e-posse gereageer en Maandagoggend gebel om te bevestig of ons nog op pad is. Toe ons egter daar aankom, beweer ’n polisieman dat dit ’n onwettige byeenkoms is omdat “protokol” nie gevolg is nie en ons nooit die minister of die metropolisie daarvan ingelig het nie. Ons het dit verwag en het kopieë van al die nodige bewysstukke daar gehad. In antwoord hierop het die span gewapende polisiemanne wat gestuur is om die minister te beskerm, gesê dat iemand “voor die einde van die dag” sal kom om die memorandum te ontvang.

Dit het egter vinnig duidelik geword dat die minister niemand gaan stuur om die memorandum te ontvang nie. Daarom het ons besluit om die memorandum by die ontvangstoonbank af te lewer. Selfs hiervan wou die gewapende polisie niks weet nie. Hulle was so vasberade om ons buite te hou, dat hulle die gebou ontruim en die deure gesluit het. Uiteindelik het ’n lid van sekuriteit, wat vir twee uur lank daar rondgestaan het en probeer het om iemand van die minister se kantoor te kry om die memorandum te ontvang, die memorandum ontvang en onderneem om dit aan die minister te gaan oorhandig.

Die hardhandige optrede deur die polisie en die weiering om ’n verteenwoordiger te stuur om die memorandum in ontvangs te neem, is erg kommerwekkend. Ons is tans besig om klagtes teen die minister van polisie, Nkosinathi Nhleko, die nasionale polisiekommissaris, generaal Riah Phiyega, en die Tshwane Metropolisie te formuleer oor die gedrag van hulle verteenwoordigers by hierdie byeenkoms.

In die afwesigheid van selfs net ’n simboliese gebaar deur die regering oor die noodsaak om plaasmoorde te prioritiseer, laat dit ons met een van twee keuses. Ons moet óf aanvaar dat plaasmoorde net eenvoudig nie op die regering se radar is nie en die status quo aanvaar, óf ons moet selfs meer openbare druk toepas, selfs meer protesaksies reël en selfs meer internasionale bewusmakingsaksies toepas.

Indien ons só daarna kyk, is dit nie ’n moeilike keuse nie. Die minister se houding jeens hierdie krisis is ’n bevestiging dat ons meer sal moet doen om óf die regering se insig te verbeter, óf internasionaal vir die regering ’n verleentheid te skep oor die gebrek aan optrede om sy eie landsburgers te beskerm.
Ernst Roets
Ernst is adjunk uitvoerende hoof van AfriForum
Volg Ernst op Twitter by @ernstroets

Similar Posts