|

Minister van polisie se poging om #SwartMaandag te diskrediteer getuig van politieke agenda

Die burgerregte-organisasie AfriForum beskuldig Fikile Mbalula, die minister van polisie, daarvan dat hy ’n fabriseerder en verspreider van fopnuus is en dat die minister meer besorgd is oor sy eie politieke agenda as oor die publiek se veiligheid. Dit spruit uit ’n verklaring deur Bongani Mkongi, adjunkminister van polisie, waarin mense wat vir die prioritisering van plaasmoorde vra as ondersteuners van Isis en die Ku Klux Klan en as “Hitler fascist mafia” uitgekryt word, gepaard met verskeie boodskappe wat Mbalula op sosiale media versprei.

Sover AfriForum kan vasstel, is Mkongi se verklaring intern onder polisielede gesirkuleer. Mkongi skryf verder: “The racist attack by Afri-Forum [sic] against the Minister of Police Hon Fikile Mbalula are in the same paradigm as those of PW Botha and DF Malan regime [sic] who attempted to demonise OR Tambo and urinate on the blood and sweat of Umkhonto we sizwe [sic] when they were fighting for political and economic freedom in their lifetime.” Hy beweer verder dat AfriForum vlae gebrand het.

Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, sê dat die ministerie van polisie op die voorpunt van fopnuus is. “Mbalula en Mkongi is blatant besig om leuens te versprei en hul gevolgtrekkings daarop te baseer. Dit is vir ons baie duidelik dat die departement van polisie só verstrengel geraak het in sy eie politieke agenda dat die veiligheid van die publiek, en van boere in besonder, geensins op die prioriteitslys is nie. Gister is Bokkie Potgieter, ’n bejaarde boer, op sy plaas in Vryheid vermoor. Mbalula kan egter nie die moord veroordeel en plaasmoorde prioritiseer nie, aangesien hy te besig is om foto’s van vlae te google.”

Roets het bevestig dat geen vlae by enige van AfriForum se aksies gister vertoon is nie. Foto’s van vlae wat tans op sosiale media versprei word met die bewering dat dit gister vertoon is, is ook alreeds as vals ontbloot.

Roets voeg by dat die minister en adjunkminister se bewerings slegs om een van twee redes kan plaasvind. “Dit kan óf wees dat misdaadintelligensie so onbekwaam is dat hulle hulself glo, óf dat die departement van polisie doelbewus fopnuus versprei om ’n vreedsame protesaksie te diskrediteer om hul eie onbekwaamheid te verdoesel.”

“’n Mens sou hoop dat hulle eerder met dieselfde ywer as waarmee hulle AfriForum nou aanval, misdaad en geweld sou aanvat,” sê Roets.

Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid, het bevestig dat daar in die afgelope 48 uur nog drie mense vermoor is in ses plaasaanvalle. “Bokkie Potgieter van Vryheid is doodgekap, Barry Baars van Ficksburg is doodgeskiet en Willie Barnard van Fochville is ook doodgeskiet,” sê Cameron.

Similar Posts