|

Treurgrond-film: Akteurs vertel hoe dit hul oë vir plaasmoorde-krisis oopmaak

Die werklike omvang van plaasmoorde en –aanvalle in Suid-Afrika en die brutaliteit, hartseer en trauma wat daarmee gepaard gaan, het eers regtig by hulle ingesink toe hulle aan die film Treurgrond begin werk het.
Van die land se voorste akteurs soos Steve Hofmeyr (hoofrol), Barbara-Marie Immelman, Erica Wessels, Jana Strydom (hoofrol) en Graeme Kriega het vandeesweek tydens die samestelling van elektroniese mediapakkette by AfriForum se kantoor in Centurion die sluier gelig oor hoe intens en aangrypend dit vir hulle was om die film te maak. Die film begin op 29 Mei in teaters draai.

Die draaiboek is deur Tarryn-Tanille Prinsloo geskryf met die befaamde rolprentmaker Darryl Roodt as regisseur. Die film is deur Samuel en André Frauenstein van Phoenix films vervaardig en beloof om Suid-Afrikaners oor alle grense heen te skok en aan die hart te gryp.

Roodt het beklemtoon dat dit belangrik is dat Suid-Afrikaners moet verstaan dat die film op geen manier ’n politieke instrument is nie.

“Dit is ’n dokumentêre film wat uitbeeld hoe die hele land en gemeenskappe in geheel deur ’n maatskaplike kwessie uitmekaar geruk en verpletter word.”

Hofmeyr, wat die rol van Lukas van Staden vertolk, het daarop gewys dat die film nie net plaasaanvalle en –moorde belig nie, maar ook die daaglikse stryd van die Suid-Afrikaanse boer, sy verhoudings met sy mense, werkers en sy rol in die gemeenskap.
Volgens Hofmeyr word die kwessie van plaasmoorde die afgelope 15 jaar verswyg en is dit tyd dat bewusmakingsveldtogte ook oor internasionale grense breek.

“Ek is lief vir alle Suid-Afrikaners en my hoop is dat almal se lot in die land moet verbeter. Dit is egter so dat dit met ons mense baie sleg gaan en ons hoef maar net na die statistieke te kyk. En daarmee wil ek die Suid-Afrikaanse boer uitsonder wat die risiko loop om vandag vermoor te word.”

Hofmeyr het gesê die land se leiers “vee hul (@&$^& aan plaasmoorde af” en niks word gedoen om barbare wat mense op die wreedste manier vermoor vas te vat nie.
“Daar is baie mense met vooroordele oor hoekom ons die fokus op plaasmoorde wil plaas. Ek sê net gaan kyk na die getalle. As daar uiteindelik te veel goed met een groep mense gebeur, skep dit stereotipes. Hierdie is ’n realiteit waarvan ons nie kan wegkom nie. Dit is absurd wat in die hierdie land aangaan en politici belieg ons oor moord- en ander syfers.”
Hofmeyr meen alle Suid-Afrikaners moet die film gaan kyk. “Niks gaan jou hierop voorberei nie. Gaan kyk dit en wys so dat wat besig is om met mense te gebeur nie vir jou ‘normaal’ geword het nie.”

Wessels vertolk die rol van Nellie van Staden, Lukas se vrou en ’n kontemporêre boervrou.
Sy het gesê die film het haar geruk en met tye laat sidder. “Ek het party dae na ons verfilm het oorweldig by die huis gekom en by myself gedink ek kan God net dank dat so iets nog nie my realiteit was nie. My hart gaan nadat ek die rol vertolk het uit na elke man, vrou en kind wat al iets so verskriklik soos ’n plaasmoord of –aanval moes deurmaak.”
Wessels hoop dat die film debat sal ontlok en mense oor alle kultuurgrense heen sal aanspoor om bymekaar te kom om saam na oplossings te soek vir dinge wat die hele land vernietig.

Die aktrise Barbara-Marie Immelmann, vertolk die rol van Christa van Staden.
“My oë het vir die werklikheid van plaasmoorde oopgegaan en twee bladsye deur die draaiboek was ek in trane. Ek weet hierdie gaan ’n baie groot film wees wat mense baie emosioneel gaan maak en sensitiewe kykers gaan laat huil.
“Mense sal besef plaasmoorde en aanvalle is ’n realiteit en verskriklik hartseer en ontstellend.

“Ek het nie besef hoe verskriklik dit regtig is en wat die geweldige omvang is nie. Ek dink die media beeld nie altyd die werklikheid uit nie.”
Ook die akteur Graeme Kriega het gesê die film het die omvang van plaasmoorde by hom tuisgebring.

“Die film het my bewus gemaak van wat regtig aan die gang is en dat daar al tonne plaasmoorde in Limpopo, die Oos-Kaap, Noordwes en die Vrystaat was.”
Volgens Kriega gaan Treurgrond mense ruk, skok, uitdaag, verbaas én met die vraag laat: “Wat is besig om in ons samelewing te gebeur en hoe ver is ons in terme van die droom en doel wat ons wil bereik.”

Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit en mede-outeur van die boek Treurgrond waarvoor die titel ook vir die film gebruik is, het gesê sy eie oom Frik is wreed op sy plaas vermoor. “Hy is op die grond begrawe waarvoor hy so lief was en geleef het. Op sy begrafnis het dit liggies gereën en dit was asof die grond getreur het….
“Ek het die draaiboek van die film gelees en ek was geskok en kon nie help om te huil nie. Agter al die statistieke is daar name én plase wat vermoor word. Dit is mense wie se stories vertel moet word.”

Similar Posts