|

Nasionale maand van protes teen plaasmoorde

AfriForum het November 2015 as ’n nasionale maand van protes teen plaasmoorde verklaar. Gedurende November sal verskeie aksies van stapel gestuur word wat daarop toegespits is om internasionale druk op die Suid-Afrikaanse regering te plaas om plaasmoorde te prioritiseer. AfriForum versoek die publiek om hul ondersteuning aan hierdie veldtog te verklaar deur die webblad www.stopdiemoorde.co.za te besoek of hul name na 32534 te SMS.

Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, het verduidelik dat dit op 1 Desember 2015 presies vyf jaar sal wees sedert die Potgietergesin wreedaardig op hul plaas naby Lindley in die Vrystaat vermoor is. Attie Potgieter (40) is 151 keer met tuinvurke, kapmesse en ander gereedskap gesteek, terwyl sy vrou, Wilna (36), en hul dogtertjie, Willemien (2), moes toekyk. Daarna is Willemien met ’n skerp voorwerp oor die kop gekap, in die kop geskiet en in die buitekamer in ’n boks gegooi. Nadat Wilna die moorde op haar man en dogter moes aanskou, is sy na die plaashuis geneem, waar sy ook verskeie kere oor die kop gekap en toe in die nek geskiet is.

“Hoewel die regering die moorde op die Potgieters in die media betreur het, is dit egter duidelik dat plaasmoorde geensins ’n prioriteit vir die polisie is nie,” het Roets gesê.

“Sedertdien is honderde boere op hul plase vermoor; sommiges op die mees gewelddadige wyse denkbaar. As die regering en die departement van polisie die probleem aflag, sal ons seker maak dat hulle in die internasionale arena hiervoor in die verleentheid gestel word.”

In die komende maand sal AfriForum die volgende aksies aanpak:

  1. AfriForum sal die hooggeregshof nader vir ’n bevel om die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) te dwing om hul statistiek oor plaasmoorde te publiseer en die metodologie bekend te maak wat gebruik word om dié statistiek in te samel. Dít volg nadat die voormalige nasionale polisiekommissaris in die afgelope jaar by twee geleenthede na plaasmoorde verwys het, maar teenstrydige syfers gegee het.
  2. AfriForum het reeds geregistreer om die Verenigde Nasies se Forum vir Minderheidsaangeleenthede in die laaste week van November oor plaasmoorde toe te spreek. ’n Verslag, wat spesifiek fokus op die wyse waarop daar in die strafregstelsel teen plaasaanvalslagoffers gediskrimineer word, sal ook by die VN ingedien word.
  3. Hierdie verslag sal ook aan meer as 300 internasionale en buitelandse mediakorrespondente in Suid-Afrika versprei word.
  4. Op die dag waarop die voorlegging aan die VN gemaak word, sal die verslag aan meer as 5 000 buitelandse media-instellings uitgereik word.
  5. Op 1 Desember 2015 sal AfriForum saam met slagoffers van plaasaanvalle ’n mosie van wantroue in die regering se vermoë om plaasaanvalle te beveg by die president se kantoor indien.

AfriForum doen ’n beroep op die publiek om hul name by AfriForum se protesbrief te voeg. In die aanloop tot die VN-konferensie sal AfriForum met ’n omvattende veldtog begin om steun vir dié memorandum te werf.

“Hoe meer mense hul name by die veldtog voeg, hoe sterker sal ons stem wees en hoe groter ons kans op sukses,” het Roets verduidelik.

  • AfriForum wil die verslag aan die VN versterk met minstens 100 000 name van die publiek wat die saak steun. Om steun te wys, kan die publiek die webwerf stopdiemoorde.co.za besoek of hul naam SMS na 32534 teen R1.
  • AfriForum sal ook binnekort ʼn eenheid op die been bring wat op die slagoffers van plaasaanvalle en –moorde sal fokus.

Similar Posts