|

Verenigde Nasies se Forum oor Minderheidsake

Verklaring deur Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum

Verenigde Nasies se Forum oor Minderheidsake

Kamer XX, Palais des Nations, Genève, Switserland

AfriForum is ʼn minderheidsregte-organisasie in Suid-Afrika. Ons organisasie verteenwoordig meer as 150 000 individuele lede van minderheidsgemeenskappe. As deel van die breër Solidariteit Beweging verteenwoordig ons meer as 300 000 lede. Daarbenewens het ons die afgelope drie weke die name van sowat 100 000 bekommerde Suid-Afrikaners ingesamel wat verklaar het dat hulle ons aanbieding hier ondersteun.

Ons is besorg oor die voorkoms van plaasmoorde in Suid-Afrika – ʼn verskynsel wat nie net meestal minderheidsgemeenskappe teiken nie, maar wat ook grootliks deur die Suid-Afrikaanse regering, en veral die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), geïgnoreer word. Ons is bekommerd daaroor dat die Suid-Afrikaanse regering nie net weier om beleide te implementeer wat kan help om die voorkoms van hierdie misdaadverskynsel te bestry nie, maar dat senior amptenare van die Suid-Afrikaanse regering soms ook die spot dryf met slagoffers van hierdie aanvalle – oorlewendes sowel as geliefdes van vermoordes – en hulle bespotlik maak.

As gevolg van tydbeperkings sal ek net raak aan ʼn paar van die kwessies en gevallestudies wat in meer besonderhede in ons verslag verduidelik word.

Die meeste kommersiële boere in Suid-Afrika is lede van minderheidsgemeenskappe. Ons vind dat hierdie boere voortdurend as politieke slaansak gebruik word deur die Suid-Afrikaanse regering en senior amptenare binne die ANC, Suid-Afrika se regerende party.

Hoewel Suid-Afrika reeds ʼn baie hoë moordsyfer het, is die moordsyfer onder Suid-Afrikaanse kommersiële boere ongeveer vier keer hoër as dié van algemene moorde in Suid-Afrika. In baie gevalle word die slagoffers van plaasaanvalle onderwerp aan uiterste vlakke van geweld en marteling. Ons navorsing het ook getoon dat aanvallers in ʼn onrusbarende aantal gevalle gebruik maak van rasse- of politieke retoriek.

Die ironie is dat hoewel die Suid-Afrikaanse regering nou in ontkenning is oor die omvang van die krisis, hulle plaasaanvalle in die verlede as prioriteitsmisdade behandel het. In 2007 het amptelike regeringstatistieke ʼn 25 % toename in plaasaanvalle getoon. Omdat die publikasie van hierdie ontstellende syfer groot protes veroorsaak het, het die Suid-Afrikaanse regering sedertdien aangekondig dat geen verdere statistieke rakende hierdie aanvalle gepubliseer sal word nie.

Hoewel amptelike statistieke nie meer gepubliseer word nie, het die probleem in die harte en gedagtes van die minderheidsgemeenskappe vererger.

Ons vind nou dat hierdie aanvalle nie net voortgaan nie, maar dat slagoffers ook hoë vlakke van growwe diskriminasie binne die strafregstelsel ervaar. Ons verslag sluit verskeie gevallestudies in wat die omvang van die probleem uitlig. Ons vind dat polisiebeamptes in baie gevalle traag is om op hierdie aanvalle te reageer. Forensiese getuienis word óf nie versamel nie óf dit word verloor nadat dit versamel is; dit lei dikwels daartoe dat beskuldigdes vrygespreek word. Verder ervaar slagoffers dat hulle tydens strafregproses soos die skuldiges behandel word.

Ons vra die geagte verteenwoordigers hier om kennis te neem van hierdie kommerwekkende verskynsel en om die saak met die Suid-Afrikaanse regering op te neem tydens u beraadslagings. Intussen sal AfriForum voortgaan om alles in ons vermoë te doen om die lewens en waardigheid van ons gemeenskappe te beskerm.

Ons verslag is ingedien en ons het afskrifte beskikbaar. Ek sal ook afskrifte voorsien aan enige ander party wat belangstel in meer inligting oor hierdie kommerwekkende verskynsel

Similar Posts