|

Internasionale kongresgangers geskok oor geweld in plaasmoorde in SA

Deur Jhua-Nine Wyrley-Birch

Die internasionale wêreld het met skok kennis geneem van die 1 750 plaasmoorde wat sedert 1994 regoor Suid-Afrika voorgekom het.
Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, en Lorraine Claasen, navorser en kriminoloog by die burgerregte-organisasie, het pas die 15 de internasionale simposium van die World Society of Victimology in Perth, Australië, bygewoon met die doel om die internasionale gemeenskap in te lig oor die omvang en erns van plaasmoorde in die land.
Claasen het gesê die boodskap wat hulle wil oordra is om die internasionale gemeenskap se hulp te vra om druk op die Suid-Afrikaanse regering te plaas om daadwerklik op te tree teen dié brutale misdade.

Sowat 300 internasionale simposiumgangers waaronder dokters, studente, navorsers en sosiaal-wetenskaplikes woon die byeenkoms by wat tot Donderdag duur.
Claasen het na afloop van haar voorlegging gesê daar was baie vrae en reaksie van die gehoor. “Kongresgangers was in die algemeen baie geskok oor die vlak van geweld in die aanvalle en was van mening dat die nie roof is wat ons beskryf nie.

“Hulle wou ook weet watter soort ondersteuning vir slagoffers beskikbaar is en of die slagoffers bereid is om vir berading te gaan. Daar was ook heelparty vrae oor wat die regering rondom plaasmoorde in die land doen.”

Volgens Claasen was dit duidelik dat verskeie kongresgangers nie oor die omvang van plaasaanvalle en –moorde bewus was nie ten spyte van berigte wat wel in die Australiese media gepubliseer word.
Roets en Claasen het by die konferensie in aanraking gekom met Suid-Afrikaners wat verhuis het na Australië en wat verduidelik het dat hulle nie bereid was om hulle kinders langer in só ’n gewelddadige land groot te maak nie.

Roets en Claasen sal môre (Woensdag) ’n groep Suid-Afrikaners ontmoet en onder meer oor plaasaanvalle en die internasionalisering van die kwessie praat.
Die klem van die konferensie het ook geval op die regte van slagoffers en die bystand wat hulle van hul onderskeie regerings kry. Groot klem is ook geplaas op die verantwoordelikheid wat regerings het om burgers wat slagoffers is te help.
Claasen het ook gesê die wyse waarop slagoffers hanteer word, moet verander en die onregverdige blaam wat op hulle geplaas word, moet uit die weg geruim word. “Slagoffers wil gehoor word en hul eie weergawe van gebeure kan vertel. Dit is ook van kritiese belang dat hul weergawes, verklarings en die impak wat aanvalle op hulle gehad het tydens hofverrigtinge die nodige aandag kry.”

Die internasionale gemeenskap het ook gehoor dat benewens die erge trauma waardeur slagoffers van plaasgeweld gaan, die aanvalle ook ’n ernstige bedreiging vir voedselsekerheid en werksgeleenthede inhou. Hoewel roof dikwels as motief vir die aanvalle voorgehou word, is die brutaliteit, marteling en erge aanranding wat dikwels met die aanvalle gepaard gaan, aanduidend van ’n vlak van haat wat nie geregverdig of aanvaarbaar is nie, het Claasen in haar voorlegging gesê.

Similar Posts