Veiligheid van kardinale belang om aanvalle af te weer
Twee boere is die afgelope week in plaasaanvalle vermoor wat die kwessie van behoorlike veiligheid opnuut in die kollig plaas.
Christo Kruger (63) van die plaas Byron in die Kuruman-omgewing is verlede week op sy plaas doodgeskiet in wat vermoedelik ’n wraakaanval deur ’n voormalige werknemer was. Hy is in die bors geskiet nadat hy geluide buite gehoor het en ondersoek gaan instel het.
Andries Snyman (59) is die afgelope naweek in hul huis op ’n hoewe in Rashoop naby Brits drie keer met ’n mes gesteek voordat hy ’n paar uur later aan sy wonde beswyk het. Die booswigte het die stopverf van ’n venster uitgekrap en so toegang tot die huis gekry.
AfriForum het verskeie bewusmakingsveldtogte rondom grusame plaasaanvalle en –moorde en is ook besig om veiligheidstrukture te vestig.
Lorraine Claasen, navorser en kriminoloog by AfriForum, is met ’n omvattende navorsingsprojek oor plaasmoorde en –aanvalle besig om ’n enkele databasis saam te stel en om te probeer vasstel watter faktore in die aanvalle ’n rol speel.
Claasen sê daar was sedert die begin van die jaar 91 aanvalle en tot einde Mei 25 moorde.
Volgens Claasen was daar in die meerderheid van gevallestudies wat ondersoek word nie voldoende veiligheidsmaatreëls in plek om die inwoners op plase te beskerm nie. “Baie mense is bewus van die risiko’s om aangeval te word, maar daar is ook apatie onder baie wat dink dit sal nie met hulle gebeur nie.”
Volgens Claasen is daar verskeie maatreëls wat mense in plek kan kry om aanvalle te probeer afweer.
“Een van die belangrikste wenke is dat mense nie na buite moet gaan as hulle geluide hoor of die honde blaf nie. Die veiligheidsnetwerk of bure moet gekontak word om van buite te kom kyk wat op die werf aangaan.”
Volgens Claasen moet inwoners ook bedag wees op vreemde metodes wat aanvallers gebruik om hulle na buite te lok soos waar vee in kampe om die huis oopgemaak word en tot in werf gejaag word.
Ander wenke is om ligte op groot werwe aan te bring wat lukraak aangaan en die omgewing verlig. Binnenshuis kan ’n selfoon wat nie daagliks gebruik word nie maar al die nodige kontaknommers bevat weggesteek word aangesien slagoffers se selfone dikwels in aanvalle gebuit word wat hulle gestrand laat.
Claasen meen gesinslede moet ook oor ’n veiligheidsplan praat en in plek hê indien hulle aangeval word. So kan kodewoorde byvoorbeeld gebruik word om mekaar betyds te waarsku as daar ’n aanval is. Gesinslede moet ook weet wie waar gaan wegkruip of gebel moet word tydens ’n noodgeval.
Ian Cameron, hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum, het ’n kort handleiding saamgestel oor wat boere kan doen om hulself te beveilig. Dit behels:
1. Wees paraat. Deur net bewus te wees oor wat rondom jou aangaan kan gevare dikwels afgeweer of selfs vermy word. Let op veranderings rondom die huis en die werf, daar word dikwels na aanvalle skuilplekke van aanvallers gevind waar hulle die boer en gesin dopgehou het vir dae voor die aanval.
2. Verander gereeld jou roetine, so kan geen misdadiger wat jou dophou presies bepaal waar of wanneer jy wat gaan doen nie, dit belemmer ook sy beplanning vir ʼn moontlike aanval. Aanvallers word onderskat omdat dit partykeer gesien word as ʼn opportunistiese misdaad, dit is wel baie keer nie die geval nie, plaasaanvalle word deeglik beplan in meeste gevalle.
3. Ken jou werkers. Dit is belangrik dat boere weet presies wie toegang het tot die plaas. Dit is ook aanbeveel dat daar ʼn databasis is met elke arbeider se ID-bewys en ʼn foto. Met die korrekte ID-dokumente kan daar bepaal word of die arbeider ʼn krimineel is en of daar enige hangende sake teen die persoon is. Dit kan dan ook bepaal word of die werker ʼn Suid Afrikaner is en of hy of sy wettig in die land is. In party gevalle kan daar selfs vingerafdrukke geneem word voor enige persoon in diens geneem word. Dit beteken dat indien daar ʼn misdaad gepleeg sou word op die plaas, daar reeds vingerafdrukke beskikbaar is om die van misdadigers mee te vergelyk.
4. Dubbele heinings word aanbeveel omdat dit dan nog moeiliker is vir iemand om te betree. In sekere areas word geëlektrifiseerde heinings gebruik as eerste linie wat volg met nog ʼn palissade of lemmetjiesdraadheining as tweede linie.
5. Selfverdedigingsklasse is waardevol om verdedigingskonsepte te leer, veral vir ʼn hele gesin. In landelike gevalle is dit partykeer moeilik om by gereelde klasse uit te kom en dus is konsepkursusse belangerik. Besoek gerus http://www.fortisgroup.co.za/ wat soortgelyke kursusse kan aanbied.
6. Raak betrokke by ʼn plaaswagstelsel, indien daar nog nie een is nie, begin een.
Vroeë Waarskuwingstelsels
Ongelukkig is dit so dat konfrontasie met ʼn krimineel nie altyd vermy kan word nie. Dus stel ons voor dat daar vroeë waarskuwingstelsels in plek gestel word. Op die manier kan ʼn boer en gesin tyd hê om weg te kom uit die gevaar van ʼn moontlike aanval. Die boer word dan betyds in kennis gestel van enige moontlike gevaar.
1. Gooi gruis tussen twee linies en rondom huis sodat daar gehoor kan word as iemand daar loop en die eiendom betree.
2. Gebruik alarmstrale (Beams) wat huisbewoners in kennis kan stel as iemand buite beweeg. Hierdie strale kan werk per SMS om jou in kennis te stel presies waar ʼn betreder mag wees sonder dat jy eers hoef op te staan.
3. Honde is een van die beste alarmstelsels wat enige persoon op ʼn plaas of in die stad in kan belê. Dit is ongelukkig so dat honde partykeer vergiftig word, maar met honde en alarmstrale is dit moeiliker vir die misdadiger om toegang tot die huis te kry. Klein hondjies binne ʼn huis word ook aangemoedig omdat hulle baie vinnig onraad aan die buitekant optel.
4. Kringtelevisiekameras is ʼn goeie idee rondom enige werf. Alhoewel dit duur kan wees, kan dit diefstal en ander gevare monitor.
5. Ligte is noodsaaklik en elke donker hoekie om ’n plaashuis moet verlig wees.