|

Plaasmoorde styg vir vyfde agtereenvolgende jaar

Die plaasmoordsyfer het vir die vyfde agtereenvolgende jaar toegeneem. In 2014 is 61 plaasmoorde bevestig, en tot dusver vir 2015 is 62 plaasmoorde reeds aangeteken.

In 2014 is 279 plaasaanvalle aangeteken. Vanjaar is 270 plaasaanvalle sover aangemeld en in 56 van dié aanvalle is 62 boere en werkers se lewens geneem.


“Dit is kommerwekkend dat daar in minder plaasaanvalle meer moorde is. Dit dui daarop dat aanvallers nie skroom om voor die voet te moor nie,” sê Lorraine Claasen, navorser by die AfriForum-navorsingsinstituut.

“Die verlies van 62 lewens is skrikwekkend, en in die meeste aanvalle is slegs die inhoud van kluise, kontant en wapens gebuit.”

Die meeste plaasmoorde is in Gauteng aangemeld (13), gevolg deur Limpopo (11) en KwaZulu-Natal (8). In die Vrystaat en Oos-Kaap is sewe plaasmoorde elk aangeteken.

AfriForum spreek hul opregte medelye uit teenoor families wat geliefdes in plaasaanvalle verloor het.

“Ons kan nie toelaat dat dié skoksyfer homself in 2016 herhaal nie. AfriForum sal onverpoos druk op die regering én internasionale rolspelers toepas om plaasmoorde tot prioriteitsmisdaad te verklaar. Ons sal ook voortgaan om landwyd gemeenskapsveiligheidsnetwerke te stig om veiligheid in landelike én stedelike gebiede te bevorder,” sê Claasen.

Plaasaanvalle en -moorde word maandeliks deur AfriForum en landbou-unie TLU SA op rekord gehou, en hulle doen ʼn beroep op Suid-Afrikaners om dié misdaad by hulle aan te meld deur ʼn e-pos te stuur na stopdiemoorde@afriforum.co.za.

Similar Posts